Aandag!!


Ek het nog altyd gedink dat as juffrou besig is met die Franse revolusie en Gertjie is besig met ‘n varsgerolde Prittballetjie in Katryn se vlegsel, dat die afwyking wat Gertjie aan ly “chroniese en jarelange seunwees” sindroom is. As die Pritthare gepaard gaan met ‘n geneigdheid om wapens te vervaardig uit gekoude papier en die buitekant van ‘n Bic pen, is dit waarskynlik “Inoverende jongeling” sindroom, vernoem na die rus Inov Jonglinski. As dit gepaard gaan met aanhoudende klasontwrigting, die vasplak van al juffrou se skryfbehoeftes aan haar tafel met “superglue”, die “behandeling” van die mopwater met blou ink en die aanhoudende ontwrigting van die klas met harde winde, het ek nog altyd die afwyking gediagnoseer as “Gebrekkige brandstert” sindroom. Die behandeling daarvan kan wissel van ‘n leerbelt, ‘n rubbersool pantoffel, ‘n populiertakkie tot, in meer ernstige gevalle waar simptome buite beheer raak, ‘n seekoeisambok, ‘n waaierband, ‘n krieketkolf of ‘n eetkamerstoel.

Ek en my broers het almal gely aan een of meer van bogenoemde siektes en die behandeling het nooit gevorder tot by waaierband nie! So was die simptome altyd onder beheer gehou! Toe kom ‘n slim ou met ‘n wit jas en ‘n dik bril en dun beursie na vore en vertel vir mense dat as jou kind onbeheerbaar is, het dit niks te doen met die algehele gebrek aan dissipline in jou huis of met jou weiering om Bybelse voorskrifte in opvoeding te volg of die feit dat jy jou kind alles gee waarvoor hy vra of dat hy jou huis regeer nie, dit is AAS! Die teenoorgestelde van wat jy op sy rapport sien is wat hy het, A’s. Hy is net ‘n bietjie aandag afleibaar, maar moenie komkommer nie, ons het medisyne! Dit is uiters gevaarlik en verslawend en sal moontlik veroorsaak dat hy nooit weer in sy lewe iets sal bereik nie, maar hy sal jou ten minste nie meer mal-maak nie wat hy gaan die meeste van die tyd so hoog soos Karen Zoid op KKNK wees! Jou klein Zombie sal nooit weer innoverend wees nie!

Nouja, daar kom Dr. Leon Eisenberg uit op sy sterfbed en vertel “jammer mammas, ek’t klein bietjie gejok en munt geslaan uit jou onvermoë om te dissiplineer!”
Die vraag is of hierdie ysberg nou die skip gesink het en of die mammas nou al meer verslaaf is aan hulle zombies se Ritalintrans as wat die kinders self aan die pille is.

Tot volgende …wat wou ek nouweer hier skryf…?
Die Sweep