Aalwyne / Aloe :


Ons het seker almal opgelet hoe vriendelik lyk die bosveld met die blommende aalwyne op die oomblik. Dis mos die plante wat omtrent net van reënwater oorleef, maar wil in volson geplant wees. Die meeste aalwyne blom in die wintermaande en vir baie lang tye.

Aalwyne genusse is in die familie Zanthorrhoeaceae en subfamilie Asphodeloideae. Voorheen was hul ook in die familie Aloaceae en leliefamilie gesorteer. Aalwyne is ’n genus van omtrent 500 spesies blommende vetplante. Die mees bekendste aalwyne is die Aloe vera. Dit is dan ook die aalwyn bestanddeel wat in ons handeroom en allerhande skoonheidsmiddels gevind word. Die ander spesie, Aloe ferox, word ook gebruik in skoonheidsmiddels.

Aalwyne is eie aan Afrika en verskillende spesies word in Suid-Afrika, die berge van tropiese Afrika en verskillende eilande soos Madagaskar en Arabië gevind.

Die meeste Aalwyn spesies het lang, dik vlesige blare met dorings aan die punte en ook langs die blare af. Die aalwyn blomme hang soos klokkies van die lang dun stamme af. Daar is egter nogal ’n hele klompie soorte aalwyne wat lyk of hul stamloos is met die roosagtige vorm blare wat direk by die grond uitgroei. Die meeste het egter ’n stam, sonder takke, waaraan die vlesige blare groei. Die blare verskil van heldergroen, gryserig en sommige het ook gestreepte blare of kolletjies op die blare. Die blare van die aalwyn gaar water op.

Daar is ’n hele paar nuwe variëteite beskikbaar, soos, die Aloe “Bushwacker (’n middelgroot aalwyn met die blomme wit klokkies onder en die rooi gepunte vorm bo, die Aloe “Lemon drops” (’n klein aalwyn met geel blomme wat heeljaar blom), Aloe “Tiger Eye” met loshangende ligrooi klokkieblomme wat heeljaar blom, Aloe “Bafana” (met ’n oorvloed heldergeel blomme, wat suikerbekkies lok, Aloe “Porcupine” (’n kleintuinaalwyn wat vinnig groei met ’n paar wit klokkies onder en rooi klokkies bo en groei vinnig en blom vir maande aanmekaar en dan die Aloe “Charles” ( ’n uitstekende eksemplaarplant wat lyk of daar wit klokkies aan die eenkant van die pragtige rooi blomme sit). Hierdie aalwyne is ongelooflik mooi en lonend om te plant.

Aalwynblare se sap kan gebruik word om velsiektes en wonde te genees. Die sap van die aalwyn is natuurlik galbitter en van die ouer mense het dit aan kinders wat hul naels gebyt het, se vingers gesmeer.

Plant gerus ’n paar aalwyne in u tuin en wees verseker van pragtige blomme in u tuin wanneer daar juis nie te veel blomme in die tuin is nie. Dis waterslim plante hierdie en verg geen aandag nie.

Onthou dat u nog steeds rose en bome en ander plante kan snoei. Geniet u tuin!