3D-Vervaardiging van die toekoms


Additiewe (toegevoegde) of 3D-drukkers is hier om te bly. So sê dr. Michaella Janse van Vuuren, ‘n elektriese ingenieur.

‘n 3D-drukker is ‘n proses waar ‘n drie-dimensionele soliede objek van enige vorm uit ‘n digitale model gemaak word.

Janse van Vuuren het die Agente van die 3D-rewolusie-uitstalling gereël wat by die Universiteit van Johannesburg te sien is.

Volgens haar is dit hoe produkte in die toekoms vervaardig gaan word. Self maak sy van die tegniek in haar eie kunswerke gebruik. Joshua Harker, ‘n Amerikaanse beeldhouer maak al sowat 20 jaar van die medium gebruik. Hy sê 95% van sy kuns word nou deur 3D-drukkers gedoen.

‘n Groep ingenieurs vertoon ook 3D-drukkers en wys prakties hoe die tegnologie werk. ‘n Laboratorium-assistent het gedemonstreer hoe hy ‘n ontwerp op ‘n rekenaarprogram teken en ‘n 3D-drukker dit lees om daarna die drie-dimensionele beeld laag vir laag op te bou.

Die 3D-drukker se moontlikhede is legio. Vanaf kunswerke tot in die industriële wêreld, mediese dienste soos prostese en ook in die vuurwapenbedryf. In Amerika waar daar drakoniese wetgewing is om burgerlikes te ontwapen, is daar ook wenke oor hoe om jou eie plastiese wapen m.b.v ‘n 3D-drukker te vervaardig.

Pryse vir hierdie toestelle het ook oor die afgelope jare heelwat goedkoper geword. ‘n Drukker wat 20 jaar gelede iets soos R200,000 sou gekos het, kan nou vir minder as R10,000 angeskaf word.