Zumaville – nuwe feite bekend gemaak


Die talle onbeantwoorde vrae rondom die omstrede kompleks waar pres. Zuma se duur woonhuis gebou is het die afgelope jaar al hoe meer mense laat wonder oor die saak.

Dit het nou aan die lig gekom dat die president slegs R800 per maand huur betaal vir die byna 9 hektaar grond waarop sy huis gebou is.

Die huurkontrak is glo vir 40 jaar en hy het die opsie om die kontrak daarna te verleng.

Hierteenoor huur die Departement van Openbare Werke ’n stuk grond net langs die president se woning vir R1, 300-00 per maand. Die grond is byna 7 hektaar groot.

Kenners meen die gemeenskap van Nkandla word ingedoen met die lae huur as in ag geneem word dat ’n gewone een-slaapkamer woonstel vir R3, 000 per maand verhuur word.

Na wat verneem word het die getekende dokumentasie van die huurooreenkoms tussen die Departement en die Trust van die gemeenskap eers verlede week by die Ingonyama-trust aangekom. Die ooreenkoms is egter gedateer Februarie 2011.

Die betrokke Departement moet nog, ingevolge die huurkontrak, huisvesting beskikbaar stel vir personeel.

Die Nkandla-projek is redelik stil en inderhaas begin nadat die Departement in 2010 die finansiering vir die projek goedgekeur het waarna geëis is dat die hele proses van oprigting bespoedig moes word.