Zuma is ’n monster


’n Bekende sakeman onder swartmense, Kenny Kunene, skryf in ’nope brief wat op “The Star” se webblad verskyn, dat Jacob Zuma ’n “monster” en ‘n “tiran” is.

Hy skryf die brief, wat direk aan die president gerig is, dat Zuma “in die openbaar glimlag, maar in werklikheid gedra hy hom soos ’n monster en ’n tiran wat sy teenstanders genadeloos teiken. Dit veroorsaak dat min mense kans sien om openlik te sê wat hulle dink van die president.

Kunene skryf dat hy Zuma ondersteun het voordat hy president was, maar dat hy nou totaal ontnugter is deur sy leierskap.

“Ek skryf hierdie omdat ek nog nooit meer teleurgesteld was met die ANC wat jy lei nie.

“Mnr. die President, ek wil nie een van die mense wees wat in vrees vir jou sê dat jy klere aanhet wanneer dit duidelik is dat jy heeltemal ontbloot is nie,” het Kunene geskryf met spesifieke verwysing na die verhaaltjie oor die Keiser wat naak is.

Hy meen ook Zuma se verbintenis met die Gupta-familie en die luukse huis by Nkandla, maak afbreuk aan die president se geloofwaardigheid.

“Maar die mate waartoe die Gupta-familie jou, en by implikasie hierdie land, beheer, word nog nie naastenby verstaan nie,” skryf Kunene.

“Ná die Shaiks en Julius Malema behoort die Guptas te weet jy kan hulle in die steek laat vinniger as wat hulle jou naam kan sê. In jou soeke na selfbehoud het jy harteloos geword.”

Kunene stel dit dat hy self luuks lewe, maar dit is nie met ander se geld nie.