Wonderwerke gebeur nog


Mev. Marinda Combrink glo dat wonderwerke steeds gebeur, al is dit in ’n ander form.
Sy is ’n slagoffer van die weghol-vragmotor ongeluk naby Roodepoort.
Haar eerste woorde aan haar geliefde was ook sprekend van iemand wat aan erge skok ly. “Pappa, ek belowe dit was nie my skuld nie.”

Mev. Combrink moes met kragtige meganiese toerusting uit haar nuwe Hyundai gesny word wat letterlik opgefrommel is deur die vragmotor.

Vier mense is in die ongeluk dood en agttien beseer.

Mev. Combrink is in ’n baie ernstige toestand in Milpark-hospitaal opgeneem.
Haar man en twee van haar drie kinders het gister buite die hospitaal gesê dis ’n wonderwerk dat Combrink leef.

“Niemand kan jou vir só iets voorberei nie. Ons het dadelik begin bid, en die hele gemeenskap, almal wat haar ken, het saam met ons gebid. Ons dien ’n lewende God. Dit kon baie erger gewees het.”

Die gesin was gister baie verlig en selfs opgewonde toe die dokters optimistiese opmerkings oor haar toestand gemaak het.