Wil ons werk of slaap?


Die Verwoerdburg Verkenners het met groot hartseer en ontsteltenis verneem van die Internasionale Strafhof in Den Haag se bevinding dat die Afrikanervolk nie onder ‘n Volksmoord deurloop nie.

Die grootste positiewe punt wat hieruit spruit, is dat hulle die moeite gedoen het om ‘n antwoord te stuur. Ons mense sal tot die besef moet kom dat niemand anders as onsself die stryd om oorlewing lewendig kan hou nie. Verby is die dae dat ons mekaar op die skouer klop met sinnelose argumente soos dat ons slegs hoef te bid en God dan alles op Sy tyd weer aan ons sal terugbesorg. Bid, dit is goed en reg, dit is ook broodnodig, maar moenie daar eindig nie.

Raak betrokke by die vryheidstryd deur te registreer op die VVK se kiesersrol. Raak betrokke by ‘n organisasie in jou area wat homself beywer vir ‘n onafhanklike staat waar jy en jou kinders in vrede en veiligheid kan woon. Ruk op na Volksfeeste soos Majuba en Bloedrivier. Ruk op na registrasie geleenthede wat deur vrywilligers gereël word, selfs al is jy geregistreer, hoe meer mense opdaag hoe meer sal oningeligtes nuuskierig raak oor wat by so geleentheid gaande is.

Om nou op ‘n hopie te gaan sit en treur gaan nie vryheid bring nie, om op te staan en jou rug styf te maak soos die Bittereinders van die Engelse-Oorlog, gaan tot gevolg hê dat daardie Boerebloed in jou are weer begin bruis van trots oor wie jy is en waar jy vandaan kom. Die werk is baie en die gewillige hande min. As jy moet praat, praat gerus. Moet net nie die fout maak om te praat en dan niks te doen nie.

Jy skuld jou nageslagte dieselfde as wat jou voorouers vir jou opgeoffer het. Hulle bloed het nie vir niks gevloei nie, en so sal jou en my bloed ook nie verniet wees nie.

Breek weg van die verkrampte siening dat die Nuwe Suid-Afrika kan werk, vat hande met mense wat op ‘n eerbare wyse die stryd voortsit. Vir meer inligting besoek www.vvk.co.za of gaan lees meer oor ons eie verkose Boere-Afrikaner Volksraad by www.volksraad.co.za .

Voorwaarts na algehele vryheid!

Leon Cornelius
Voorsitter: Verwoerdburg Verkenners
[email protected]