Weghardloop-sending kos R163 miljoen


Die omstrede “inval” in die Sentraal-Afrika Republiek (SAR) om rebelle teen te staan het Suid-Afrika R163 miljoen uit die sak gejaag.
Die opspraakwekkende inligting is bekend gemaak na aanleiding van die Weermag se mislukte, en chaotiese betrokkenheid in die SAR waartydens 14 soldate uiteindelik doodgeskiet is deur rebelle.

Parlementslede het daarop gewys dat die Suid-Afrikaanse troepe betrek is by ’n geveg waarteen hulle nie opgewasse was nie.

Minister Mapisa-Nqakula het gesê dat R54,4 miljoen is bestee aan bedryfsuitgawes. Dit sluit onder andere ook in dat R21 miljoen aan toelae vir soldate betaal is en R10,4 miljoen vir lugmag koste. Altesaam R108 miljoen is bestee om vliegtuie te huur.

Die onttrekking van die magte, wat deur sommige waarnemers bestempel word as ’n paniekbevange wegvlug, het belastingbetalers R42,8 miljoen gekos.