Week van groter rustigheid


Gedurende die afgelope week het Boere-Afrikaners meer rustigheid beleef met die alledaagse gebeure wat minder traumaties was as wat in die normale gang van sake in hierdie land die geval is waar gewelddadigheid so alledaags geword het.

Die boer van die Oos-Kaap wat ape flous, laat mens glimlag. Die prestasie van ’n jong 17 jarige skoolseun om ’n goue medalje los te slaan vir sy oorspronklikheid kan lesers ook trots laat voel op ons jeug.

As ’n jong student vier swartes wat inbreek, met ’n swaard verwilder, dan besef mens maar weer die noodsaaklikheid om paraat te wees en nie te skrik vir moorddadige diewe nie.

Daar is hierdie week ’n hele aantal berigte oor die verdeeldheid wat groei onder swartmense in hul verskillende politieke strukture. .Die gekonkel in die Zumaville-projek wil maar nie tot rus kom nie en die wette om die wandaad te verberg, dui op arrogante manier van misdrywe wat stilweg goedgepraat word.

As die SAPD nou van sangoma-intelligensie begin gebruik om skurke op te spoor, het die land terug gesak na iets minder as ’n derdewêreld moondheid. Veel eerder is die land nader aan ’n piesang-republiek.

Die SA Weermag het nie net tientalle noodsaaklike veg-voertuie wat flenters staan en stof vergader nie. Daar is ook die hele gemors met ambulanse wat aangekoop is en dan vir ander doeleindes gebruik word. Hierdie lekker-leef-maniertjies van die amptenare en regeerders sal nie vir ’n onbepaalde tyd kan voortduur nie. Iewers in die toekoms gaan hulle in ’n “Zim-chaos” beland.

Die neerdrukkende nuus oor plaasaanvalle bly egter op die voorgrond. Alhoewel daar tot hede ’n aansienlike daling in moorde op volksgenote is, blyk dit dat gewapende aanvalle op ons mense steeds hemelhoog is. Hieruit moet afgelei word dat die waarneming van die bestuur van Volksmoord-Projek 2010, heelwaarskynlik korrek is.

Die 100-jarige feestelike perdeskou in ’n Vrystaatse dorp is ook iets waarop ons trots kan wees. Dit is nie net ’n pragtige voorbeeld vir die hele land nie, dit is ook prysenswaardig dat hulle die perd op hierdie wyse erken – dit is immers die een dier wat ’n groot aandeel het in die vestiging van die beskawing aan die suidpunt van Afrika.

Die perd was deel van ons voorgeslagte se stryd en vreugdes. Van die Kaap na die Oosgrens, tot die twee oorloë teen die Britse Ryk en die Slag van Bloedrivier, het die perd ’n prominente rol vervul. Dit is maar enkele groot gebeurtenisse – die perd was ook sy spogdier wanneer die jongman wou gaan vlerksleep by die nooientjie van sy hart….

Maak seker dat u die berig lees oor die groei in leser-tal van Die vryburger.

Die Redaksie wil weereens lesers daarop wys dat hulle gerus die hele koerant kan lees by www.dievryburger.co.za.

Redakteur