Waak teen oormatige voedsel invoere


Die regering moet daadwerklike stappe doen om te verhoed dat nie nog boere die bedryf moet verlaat, en die land aangewese moet word op onvolhoubare invoere van elders nie.

TLU SA se President, mnr. Louis Meintjes, het verwys na die jongste bedreiging van dié aard wat veral die hoenderboere in die gesig staar. ’n Oormaat hoendervleis van skynbaar swak gehalte, word tans ingevoer vanuit die Europese Unie en uit Brasilië. Dit het tot gevolg dat Suid-Afrikaanse hoenderboere tans noustrop trek, en die gevaar bestaan dat sowat 20 000 werksgeleenthede verlore kan gaan.

“TLU SA ondersteun die pleidooi van die SA Pluimvee Vereniging dat groter invoerheffings op die oormaat ingevoerde hoendervleis gehef moet word,” sê mnr. Meintjes. “Die beswaar van die Vereniging van Vleis In- en Uitvoerders dat dit gaan lei tot hoër kospryse, is slegs gedeeltelik waar. Invoere na Suid-Afrika is in die meeste gevalle nie volhoubaar nie en is slegs seisoenaal in gevalle waar daar elders oorproduksie is en dit net afgelaai word op Suid-Afrika. Sodra daardie oorproduksie afgewerk is en die balans herstel is, sal die beskikbaarheid drasties afneem. Boonop is dit tans so dat invoere die land baie kos, veral in die lig van die verswakking van die rand. Dit sal ingevoerde goedere steeds duurder maak.

“Dit is egter nodig dat die plaaslike bedryf in stand gehou moet word, en selfs gestimuleer word om te kan uitbrei. Aangesien hoender die goedkoopste proteïne is, wat ook toeganklik is vir die armer gemeenskap, kan die regering juis baie werksgeleenthede skep deur die invoerbelasting op hoendervleis te verhoog.

“Die Regering moet besef dat voedsel altyd bekostigbaar sal wees as plaaslike ekonomiese ontwikkeling, en in besonder landbouproduksie, ondersteun gaan word. Dit skep werk en mense wat ‘n inkomste verdien, het dan ook die vermoë om kos te kan koop.

“Soos sake tans in die pluimveebedryf verloop, verlaat etlike hoenderboere weekliks die bedryf. Wanneer ingevoerde produkte sou opdroog, sal die land nie meer die vermoë hê om weer daarin te kan voorsien nie, omdat die bedryf nie opgepas en in stand gehou is nie,” waarsku mnr. Meintjes. Hy sê hierdie beginsel is egter nie net op die pluimveebedryf van toepassing nie maar sal ook die graan en veevoer bedryf negatief beïnvloed wat verdere werksgeleenthede in die slag kan laat bly.