Vloede oor Sentraal-Europa


Nege mense het reeds gesterf in vloede wat Sentraal-Europa teister. In die Tjeggiese Republiek was 7000 mense genoodsaak om hulle huise te ontruim. Volgens die weervoorspelling word daar nog kwaai neerslae later die week verwag.

Praag het ‘n noodtoestand afgekondig nadat die Vltava Rivier sy hoogste vloedmerk in ‘n dekade bereik het. Agt metrostasies is gesluit en die Praagse dieretuin het begin om diere na veiliger plekker te neem.

Die Vltava Rivier vloei tans teen ‘n volume van 3,000 kubieke meter per sekonde, terwyl die gewone norm slegs 149 kubieke meter per sekonde is. Die veiligheidskleppe van die rivier kan ‘n maksimum van 3,250 kubieke meters per sekonde hou.
Dele van Duitsland, Slovakië, Hongarye en Poland is ook geaffekteer. In sommige gebiede het twee maande se reën in slegs ‘n paar dae geval.
Veral in die dorpie Passau, in die suid-oostelike deel van Duitsland is die situasie hoogs gevaarlik. Volgens ‘n woordvoerder van die Duitse nuusagentskap, DPA is die water op die hoogste vlak sedert 1501.
As ‘n voorkomende maatreël is die elektrisiteit afgeskakel en reddingspanne gebruik bote om mense in die vloedgeteisterde gebiede te ontruim.
Die Duitse weermag het 1,760 soldate ontplooi om hulp te verleen in die versterking van geboue. Volkswagen moes sy fabriek in Zwickau in Sakse sluit aangesien die werkers nie by die fabriek kan uitkom nie.