Vervolgingsgesag tree onwettig op


Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) tree onwettig op in hul besluit om adv. Glynnis Breytenbach uit haar pos te gooi en boonop te verplaas. Dit kom dan neer op kontrakbreuk en is ’n onwettige administratiewe keuse.

Dit is wat beweer word in die hofstukke wat Adv. Breytenbach by die arbeidshof in Johannesburg ingedien het.

Adv. Breytenbach vra die hof om ’n interdik teen die NVG, asook teen adv. Nomgcobo Jiba, die waarnemende hoof van die NVG. Die interdik moet hulle verhoed om die besluite uit te voer.

Breytenbach gee volledige besonderhede in haar lywige verklaring van die klagte wat Imperial Crown Trading in Oktober 2011 teen haar ingestel het. Sy wys ook op die NVG se ondersoek teen haar, haar skorsing, die uiteindelike tugverhoor en die uitslag waarin sy op alle aanklagte vrygespreek is.

Breytenbach moes ingevolge die uitkoms en bevindinge vroeër vandeesmaand haar verpligtinge as streekhoof van die gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid in Sentraal Transvaal hervat.

Foto- Glynnis Breytenbach