Versigtig met 1913-wet herdenking


Met die herdenking van die Wet op Naturelle Grondbesit, wat op 19 Junie 1913 in werking gestel is, is dit nodig om sekere sake net in perspektief te plaas.

Ter wille van ’n politieke beleid is gepoog om grondbesit te orden in volks- of stamverband. Of daardie beleid reg of verkeerd was, is ’n ander debat. Daardie wet het grondbesit gereguleer ingevolge ‘n koloniale beleid om grondbesit te orden in volks- of stamverband.. Die geskiedenis kan nie met vandag se feitestel beoordeel word nie.

Trouens, die wet het in die eerste plek van die uitgangspunt uitgegaan dat sekere gebiede nie aan blankes mag behoort nie.

Die Wet het niemand die reg gegee om ’n ander se grond eenvoudig te neem sonder vergoeding nie. Ook die destydse regering kon nie net grond van enige persoon of groep afneem nie, sonder om daarvoor te vergoed of ander grond in ruil aan te bied nie. Hierdie feite is onlangs weer eens aan die hand van bewyse en dokumente volledig gedokumenteer deur o.a. prof. Louis Changuion in sy boek, Omstrede Land.

Die huidige beplande wetgewing staan in skrille kontras teenoor die 1913-wet.

Daar word vandag openlik geëis dat blankes hulle grond moet prysgee. Daar word vanuit die regeringsparty al meer geëis dat daardie grond sonder vergoeding prysgegee moet word deur blankes. Ingevolge die Groenskrif op Grondhervorming word daar metodes in plek gestel om in wese aan hierdie eise gehoor te gee.

Om iemand grond te gee in ruil vir ander grond, of om iemand te vergoed vir grond, is geen diefstal nie. Om grond te onteien, sonder vergoeding, of selfs net teen die helfte van markwaarde, kom neer op flagrante diefstal.

TLU SA wil dit ter wille van die rekord net weer duidelik stel: geen grond is deur enige huidige kommersiële boer gesteel nie. Die geskiedenis kan nie eenvoudig ongedaan gemaak word nie. As daar ’n werklike behoefte is aan grond, moet die Staat die voortou neem en van sy miljoene hektare onbenutte grond beskikbaar stel.

TLU SA doen ’n beroep op die regering om nie die 1913-wet se herdenking te gebruik om ’n nog meer plofbare situasie te skep nie. Daar is reeds 26 mense op plase vermoor sedert die begin van vanjaar. Uitsprake of selfs slegs insinuasies dat blankes grond gesteel het, kan lei tot verdere plaasmoorde. Daar moet ten alle koste gewaak word dat ’n Zimbabwe-situasie ontstaan waar grond eenvoudig beset gaan word.

As die regering ’n probleem het met die 1913-wet, moet hy dit opneem met Brittanje, wat die destydse koloniale moondheid was. Hy moet geen vergelding van welke aard ook al pleeg of toelaat teen die huidige kommersiële landbouer, wat in vrede en met bekwaamheid die land van voedsel voorsien nie. Te midde van swak ekonomiese omstandighede, onrustige arbeidsverhoudinge in veral die mynbedryf en die geleidelike afwaartse aanpassings van die land se krediet- en beleggersvertroue, moet die regering nie ’n eeu-oue stok probeer gebruik om die land se ekonomie nog verder te skaad nie.