Vakbond se hoof kry miljoene uit Sasol


Die vakbond Ceppwawu se hoof, Simon Mofokeng, en sy vrou Maureen ontvang maandeliks meer as R320, 000 uit ’n kontrak met Sasol wat redelik verdag voorkom.

Mofokeng het glo ’n prominente rol vervul in die besluit van Sasol om ’n kontrak te beklink met die BEE-maatskappy Khotso-Batho Mining Services.

Sy vrou Maureen is die enigste direkteur van Khotso-Batho Mining Services, met ’n aandeel van 90% daarin. Die ANC lid van Noordwes, Obakeng Malao, besit die oorblywende 10% in aandele.

Betaalstrokies dui daarop dat Mofokeng in 2010 ongeveer R130, 000 per maand gekry het as werknemer en vennoot van die maatskappy. Sy vrou het in dieselfde jaar R190, 000 per maand gekry uit die Sasol kontrak.

Mofokeng ontvang ook R21, 400 per maand as hoofsekretaris van Ceppwawu, asook ’n maandelikse motortoelaag van R20,000.

Volgens reëls van die vakbond mag hy nie ’n voltydse pos elders beklee nie.