Susters vind mekaar na baie jare


Die twee halfsusters wat so eenders lyk, was baie verbaas daaroor toe hulle mekaar vir ’n eerste keer sien.
Simoné Lessing (23) van Benoni aan die Oos-Rand sê dit was byna soos om in ’n spieël te kyk.
Sy het van Johannesburg na George gevlieg om haar halfsuster, Samantha van der Westhuizen (22) vir ’n eerste keer te ontmoet.
Die twee het ’n eerste keer met mekaar in verbinding getree toe hulle telefonies met mekaar kon praat. Simoné het meer as tien jaar gelede met ’n soektog begin om haar halfsuster, wat sy nooit geken het nie, op te spoor.
Dié twee susters was oorstelp van vreugde toe hulle mekaar omhels het op die George lughawe dat woorde aanvanklik ontbreek het.
“Dit voel asof dit nog steeds nie insink nie. Ek het nooit gedink die dag sal waar word nie,” het Samantha later gesê.
Hulle het nie geweet wat om vir mekaar te sê toe hulle uiteindelik voor mekaar gestaan het nie.
Haar suster kon net groet met ’n “hello”.
Sy sou eers later hoor sy het ook ’n halfbroer wat sy nooit geken het nie.