Suid-Afrikaanse egpaar ontvoer


Skok, verbasing en ongeloof was sigbaar op die gesigte van familie en vriende uit reaksie toe vasgestel is dat die eertydse Bloemfonteinse egpaar as gyselaars in Jemen aangehou word.

Die egpaar, wat in Taiz in Jemen ontvoer is, is Pierre en Yolande Korkie. Hulle het voorheen in Bloemfontein gewoon waar hy onderwys gegee het by Grey College..

Die egpaar was onderweg na Suid-Afrika om die begrafnis van Pierre se pa by te woon toe hulle ontvoer is. Sy pa, mnr. Leslie Korkie (78), is verlede Maandag in Port Elizabeth oorlede.

Die ontvoering hou blykbaar verband met ’n dispuut oor grond en die oprigting van ‘n hotel . Die ontvoerders is in n stryd gewikkel met die owerhede.

Die vryburger het verneem dat die egpaar goed behandel word en dat hulle kinders veilig is. Intussen word daar op hoër vlak onderhandel om die egpaar vry te laat.

‘n Nie-regeringsorganisasie wat hom ten doel stel om gemeenskapsontwikkeling in Jemen onder die jeug te bevorder, het geëis dat die twee Suid-Afrikaners vrygelaat word.

Mogamat Jaffer, die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Saoedi-Arabië, onderhandel tans met die regering van Jemen oor die vrylating van die egpaar.

Foto – mnr. Korkie)