Stink houding!


Ek kan nie verstaan waarom die DA so teleurgesteld is oor wat met hulle bus gebeur het nie! Volgens die DA was dit die ANC jeugliga wat hul probeer vuilsmeer het deur die DA bus met menslike afval te gooi (en ons praat nou nie hier van die kolwyntjiepapiertjies en lemoenskille wat na jou piekniek oorgebly het nie!) Iemand het waarskynlik gesê: Ons gaan betoog teen belasting en toe hoor iemand verkeerd!

Die DA reken dit is die jeugliga wat hierdie stink houding ingeneem het tydens hulle “110% groen veldtog”. Ek dink persoonlik hulle het heeltemal in die gees van die veldtog opgetree. Die ongelukkigheid kan nie wees oor optog hou nie, die DA het immers self noudiedag 9 topdansers na kleinfontein afgevaardig! En die sponsklippe wat die bus mee bestook is was heeltemal biodegradeerbaar! In meer as een opsig was die gekose projetiele waarskynlik heeltemal groen!

Persoonlik sou ek nie noodwendig kans gesien het om gister se middagete vir vandag se optog te gebruik nie. Om ‘n ding te gooi moet dit immers eers in jou hand wees en ek sien myself nie visvang in die porseleintrompet nie. (ek staak eers ‘n oomblik hier om my interne refleksbewegings onder beheer te kry, want ek het pas bietjie in my mond n smaak gekry en vra om verskoning aan almal wat graag ‘n etetjie geniet saam met sy Vryburger nuus)

Die realiteit is dat ons lewe in ‘n land wat beskryf kan word met die ANC jeugliga se nuutste wapen. En ja, glo dit as u wil, in ‘n land waar mense mekaar met p$#f gooi. Om een of ander rede kan ek my nie indink hoe Mitt Romney, ontsteld oor Obama se nuutste uitlating, ‘n hand vol stomende stinkpastei na die president se gesig slinger nie!

In die jeugliga se verdediging het hulle darem blykbaar die optrede as walglik en verfoeilik bestempel…nooit gesê dat dit nie hulle was nie!… maar darem erken dit is bietjie af. Nietemin, die Wes Kaapse Parlement het ook blykbaar so geskenkie op die stoep gekry. Iemand word waarskynlik nou gedagvaar vir mediese onkoste omdat iemand daarin gegly en by die trappe af gefoeter het!

Ek sluit af met die wyse woorde van ‘n onbekende digter wat eens op ‘n tyd gesê het: Daar is geen las soos ontlasting nie!

Tot volgende slag
Die Sweep