SAPD manne doen aansoek vir borg


Swaar gewapende polisie, sommige met R5-gewere, was te sien binne en buite die Sasolburgse landdroshof tydens die borgtogaansoek van twee prominente polisiemanne van Misdaadintelligensie.

Nog vier ander swartes wat verdink word van die transito-rooftog vroeër vanjaar in Vaalpark, was in die hofsaal.

Die ses is aangekla vir hul waarskynlike betrokkenheid by vier gevalle van poging tot moord en roof met verswarende omstandighede sowel as vir die onwettige besit ’n vuurwapen en ammunisie en die sameswering om ’n rooftog uit te voer.

Die klagtes hou verband met ’n geval in Februarie vanjaar toe ’n Land Cruiser met ’n geldwa van Coin-sekuriteit in Vaalpark gebots het en daarna beroof is van nagenoeg R2 miljoen.

Die aanval is vooraf gegaan met geweervuur op die sekuriteitsvoertuig.

Kapt. Lesiba Tshabalala (39) en sers. Sekonyela Willby Molefe (41), asook Sipho Nkosi (38), Maputso Moloi (36) en Sipho Motsomai (26) het gister skuld op al die aanklagte teen hulle ontken.