Sakevertroue, goeie nuus èn slegte nuus


Suid-Afrikaanse sakevertroue in die vervaardigingsektor het met agt punte geval en staan tans op 34 punte, volgens die BER (Bureau for Economic Research) indeks. Daar was ‘n geringe styging tydens die vorige twee kwartale, maar dit is nou uitgewis deur die nuutste syfers. Besigheidsvertroue gaan erg gebuk onder onsekerheid, wat verder benadeel word met uitsprake en optredes van die politieke vennote van die regerende party.

Die bietjie positiewe nuus is dat fabrieksuitset vir April hoër was as dieselfde maand verlede jaar. Die jaar op jaar groei van 2.2% moet egter met versigtigheid beoordeel word en kan slegs om tegniese redes wees, want ‘n bydraende faktor was dat April 2013 meer produksiedae gehad het as April 2012. In 2012 het die volle Paasnaweek in April geval en vanjaar gedeeltelik in Maart en April.