S.A. se ekonomiese groeivooruisigte daal


Volgens die adjunk direkteur-generaal vir ekonomiese beleid in die tesourierafdeling, Nomfundo Tshazibana, moet die ekonomiese groeiverwagting vir 2013 op 2% gestel word. Sy het uitspraak gemaak tydens ‘n paneelbespreking van die Gordon Institute of Business Science op 29 Mei. Die SARB het sy verwagte groeikoers verlede maand afgeskaal van 2,5% na 2,4%.

Suid-Afrika se ekonomiese groeikoersverwagting vir 2013 vergelyk swak met die verwagting vir Afrika wat op 4,8% gestel word vir vanjaar en op 5,3% vir aanstaande jaar. Die belangrikste groei bydraers vir Afrika is juis in daardie sektore waarin S.A. in die verlede goed presteer het, naamlik landbou, mynbou en energiebronne.