Ons land verval tot ruïnes


Laat my toe om eerstens ons dank en waardering uit te spreek teenoor die lesers wat in groot getalle hulle waardering en gelukwense oorgedra het met Die Vryburger se eerste verjaarsdag.
Die redaksie was oorstelp van vreugde met die wonderlike reaksie van lesers. Baie dankie!

Die week se nuusgebeure rondom Mandela word in die gedrukte media oorheers, maar die redaksie van Die vryburger ag dit van middelmatige belang.

Dit is ons versugting dat die aanbieding van Opera 2000 goed ondersteun sal word. Iewers in hierdie week se berigte is die besonderhede van die verrigtinge. Die aanbieding is nie net van hoogstaande gehalte nie, dit is ook volksgerig en word deur ons volksgenote aangebied.

Die egpaar wat gyselaar gehou word deur terroristiese elemente is ’n jammerlike verhaal. Selfs Zola Budd het haar meelewing uitgespreek.

Die mooi verhaal van twee susters wat mekaar vir die eerste keer vind, is aangrypend. Ewe so is die berig van klein kindertjies wat deur ’n swart Comrades atleet besteel is tydens die wedloop.

Die berig oor blanke grondbesitters wat as diewe beskou word deur die regime se parlementêre verteenwoordigers, sal miskien ons lesers se bloeddruk laat styg. U kan die bloeddruk weer na normaal terug kry deur te lees van die Boesmans wat steeds stry vir hulle onafhanklikheid.

As ’n jong vrou in die bed van ’n vakansiehuis deur terroriste doodgeskiet word, dan besef ons maar weer hoe gewelddadig hierdie land geword het. Die nuus en gebeure is net so skokkend as wat die verwaarlosing van die SANW se geboue. As 37, 000 geboue verwaarloos word in een Departement, dan besef jy dat Suid-Afrika besig is om ’n volgende Afrika staat te word wat binnekort net uit ruïnes gaan bestaan.

Dit is dan geen wonder dat ’n politieke leier in Brittanje gal gebraak het oor Mandela en die huidige regime van die land.

Dit sal insiggewend wees as ’n in-diepte ondersoek gedoen kan word na die totale verval in die land. Oos-Transvaal se grondpaaie is haas onbegaanbaar omdat die helfte van sy padskrapers gebreek is en nie herstel word nie. Intussen word werkers betaal wat met die toerusting moet werk!

As die ANC woordvoerder dan nog growwe foute begaan met die koste van instandhouding, dan weet ons dat die antwoord op al hierdie probleme in een woord saamgevat kan word – vryheid!

Ons volk is gewoond daaraan om in vrede, gedissiplineerd en ordelik te leef en te werk. In hierdie huidige toestande van die land is ordelikheid en dissipline nie deel van die proses nie.

Die ANC kon dit vir hulle en vir die land soveel makliker gemaak het deur die netjiese infrastruktuur wat hulle op ’n skinkbord gekry het, in stand te hou. Deur net dit te doen, sou hulle die respek van menige verdien het.

Maar helaas, selfs dit is vir hulle te veel – hulle verkies eerder die chaos van totale verval.

Redakteur