Onkruid … Dodder of Cuscuta


Dodder of Cuscuta is ’n genus van omtrent 100 – 170 spesies van geel, oranje of rooi parasitiese plante. Dodder was voorheen ’n genus van die familie Cuscutaceae, maar word nou aanvaar dat dit aan die “morning glory” familie, Convolvulaceae behoort. Hulle word veral in tropiese en subtropiese areas gevind. Dodder groei nie baie goed in koel klimate nie.

Dodder kan geïdentifiseer word deur die dun stingels wat hulle maak en dit het nie blare nie. Vanaf midsomer tot vroeg herfs dra hulle klein vruggies wat dieselfde kleur het as druiwe, en die vruggie is so groot soos ’n ertjiepit. Dodder se blommetjies is van wit, ligroos, geel tot roomkleurig. Hulle blom gewoonlik vroeg in die somer. Hulle dra baie saad met ’n harde dop en kan in die grond oorleef van 5 – 10 jaar en langer. Dodder se saad spruit dan uit die grond en groei vinnig om dan ons pragtige groen plante of selfs bome te bereik en dit dan toe te rank. Indien Dodder nie binne 5 – 10 dae ’n ander plant bereik, om op rank nie, sal die dodder doodgaan.

Dit is ’n parasiet, daarom maak hy ons mooi plante en bome dood. Wanneer Dodder ’n plant bereik het, rank hy baie vinnig om die plant. Indien Dodder dan goeie voedsel van die hoofplant waarom hy rank kry, groei hy behoorlik in die hoofplant in en maak hom dan dood. Een Dodderplant kan sommer vinnig in ’n klomp ander plante rank en hulle laat kwyn en doodgaan. Dodder veroorsaak ook verskillende plantsiektes en dit versprei dan na al ons ander plante in die omgewing van die Dodder.

Baie lande het dan ook wette in plek om te keer dat Doddersaad ingevoer word. Indien u dit in u tuin ontdek, moet u dit so gou moontlik uitroei, al lyk die ou blommetjies pragtig. Wanneer Dodder alreeds om die hoofplant begin rank het, is dit beter om die hoofplant ook uit te haal of baie kort te snoei.

Tuiniers, wees voorbereid vir hierdie onkruid. Roei dit maar liewe so gou moontlik uit indien u dit in u tuin vind.