Motor rubriek – Studebaker President


Van ons ouer lesers sal die Studebaker motors van die 50-jare in herinnering kan roep. Bekende name soos die Studebaker Champion, Lark (gebruik deur Pretoria se blitspatrollie), Daytona en die President was bekende modelle in die motor wêreld.

Die tegnologie wat gebruik was in hierdie motors was van hoogstaande gehalte. Ongelukkig moes die motors kompeteer met GM, Ford en ander Amerikaanse motor produkte wat teen relatiewe lae pryse in die mark verskyn het. Dit het daartoe gelei dat Studebaker later uit die mark moes onttrek.

Behalwe motors het Studebaker bakkies ook vervaardig. ’n Bekende naam in hierdie mark was die Champ. Dit was met ’n sessilinder of V8-enjin toegerus en was in ’n verskeidenheid van kleure beskikbaar.

Die motors was ook met sessilinder of V8-enjins beskikbaar. Die ratkas wat gebruik is, was ’n driespoed handratkas en die rat-kieshefboom was aan die stuurkolom gemonteer. Sommige van die motors het, behalwe die drie ratte, ook ’n versnelrat (overdrive) gehad wat deur middel van die brandstofpedaal (trap en los aksie) geskakel was.

Die V8-enjins wat gebruik is, was kragtig en bekend vir goeie wringkrag teen lae enjintoere en die brandstofverbruik vir daardie jare, was heel aanvaarbaar.

’n Uitstaande model was die Studebaker President, hardekap. Dit is ’n tweedeur koepee motor waarin ’n V8-enjin (bekend as die Wildcat) gepas is met ’n driespoed handratkas waarvan die kieshefboom aan die stuurkolom gemonteer is. Die V8-enjin was ’n 4247 kub. cm en het 138 kW ontwikkel @ 4500 o.p.m. Dit was in staat tot ’n snelheid van 160 km/u. en selfs hoër en het oor ‘n besondere padhouvermoë beskik. Die motor versnelvan 0 tot 100 km/u. in 10 sekondes wat goed vergelyk met die moderne motors van vandag.

Die remme, alhoewel trommels voor en agter, het die motor met veiligheid tot stilstand gebring.
Geniet die bietjie nostalgie.