Kul jou hier, kul jou daar


Die Sweep is bewus dat hy al ‘n wit streep geklap het dwarsoor die 1.5meter breë agterstewe van die SAPD (Sangomas for Arms and Panga Distribution), maar hulle is so nuuswaardig en relevant dat ek weer oor hulle moet skryf. Die ander opsies was om te skryf oor die nuwe bende of soos hulle hulself in Ingels roep “a gang” en daar is nie veel te lag daaroor nie of oor die oeraartappel en wat ek oor hom te sê het kan nie gepubliseer word nie!

Deesdae, as inbrekers dinkskrum hou….wel, as hulle koppe bymekaar sit…en met ‘n lysie van maklike teikens vorendag moet kom, dan stuur hulle die jongste om die plakaat by die polisiestasie te gaan haal wat al die polisiestasies aandui! Hoe word by die polisiehoof se kantoor ingebreek!? Het hy hom nie misgis dat dit ‘n kollega se kantoor was en toe self daar ingebreek nie? “Eh, I like dies ashtray, eet looks jast like mine! I’m gôing to tek it end put it with mine, metching pair!”

Dit is egter nie die snaakse ding nie. Wat snaaks is, is dat hy sy uitvoerende sekretaresse aangestel het om die saak op te los. Die eerste vraag is, is daar sekretaresses wat nie in uitvoerende hoedanigheid werk nie? Wat word hulle genoem? Toesighoudende sekretaresses? Regstellende sekretaresses? Elk geval, die rede vir haar aanstelling was nie haar uitvoerende vermoëns nie, maar die feit dat sy ‘n sangoma is!

“Hierdie misdryf is prioriteit! Ons soek die beste van die beste hierop! Stuur die polisiemanne na daardie plaasmoord toe wat eergister plaasgevind het, maar laat hulle eers die p#&f opvee by die lughawe. En bring Frank Buyanga se Rolls Royce vir my en die sexy sekretaresse met die vere en die perdestert, want ses beentjies van ‘n ystervarkpoot, twee dobbelstene, drie nierstene en ‘n appelstronk gaan vir ons wys wie die nat hond is wat my asbakkies gesteel het!

Ja die SAPD dink buite die boks al staan daar in groot vet letters op die boks geskryf: LOGIKA. Maar as dit werk werk dit. Na net 15 minute weet die polisiehoof dat die moontlike verdagtes in hierdie saak wissel tussen ‘n kleptomaniese nat hond, een van daardie apies wat geleer is om te rook en ‘n polisievyandige bees met malkoeisiekte!
Gelukkig is hierdie sweepslag in Afrikaans geskryf, want die polisie lees net Ingels!

Tot volgende slag.
Die nat Sweep