Kategorie 1 Indringerplant


Die gemmerlelie / Hedychium coronarium is een van die indringerplante wat uitgeroei moet word. Dit is ’n baie sterk plant en versprei sommer vinnig met lopers in die grond. Hy is familie van Zingiberaceae (gemmer familie). Oorspronklik kom hy van die Asiatiese lande soos Indië en Indonesië. In Brasilië is dit ook as onkruid verklaar en daar word geglo dat die swart slawe dit uit Afrika saamgebring het, omdat hulle die blare gebruik het as matrasse. Dit is egter ’n baie gewilde plant om tuine te versier in Florida, Kalifornië en ook die Karibiese en tropiese gebiede regoor die wêreld. Die plante groei in halfskadu tot volson. Dit kan ligte ryp verdra en hou van humiditeit en water.

Hierdie plant word tot 2 meter hoog en groei regop en in bosse soos riete. Van onder af tot bo by die punt maak hy dan lang breë gepunte, heldergroen blare. Die gemmerlelie se blomme kom in trosse voor. Sy blomme is pragtig en is welriekend en is omtrent 30 cm lank met 3 smal en 3 breë blomblaartjies. Die meeste gemmerlelies se blomme is wit met ’n geel basis, maar daar is ook ligpienk tot geel en roomkleurige blomme. In die laatmiddag is die reuk sterker en ruik die hele omgewing heerlik soet. Die gemmerlelies blom van midsomer tot laat herfs. Die blomme lok skoenlappers en bye na die tuin. Hulle word versprei deur sade (’n saadlob met helder rooi sade in) en ook deur baie sterk lopers onder die grond. Hierdie lopers ruik sterk na vars gemmer en het knoetse aan wat soos ons gewone vars gemmer lyk.

Die plant word redelik maklik uit die grond getrek en dan kom die sterk gemmer reuk na vore en indien u nie met handskoene gewerk het nie, sal u vir ’n paar dae die gemmer aan u hande ruik. Dit voel ook taai en ons sal u aanraai om liewer met handskoene te werk. Hierdie rietagtige plante is ook geneig om ons hande te sny, want die stingels en blare is hard en skerp. Dit is soos riete en bamboes wat maklik hande sny wanneer hard oor die stingels gevryf word.

Volgens bronne is Juniemaand die beste tyd om indringerplante uit te roei.
Geniet u tuin en geniet die heerlike soet sitrusvrugte.