Jeugliga se rykdom verdwyn met gekonkel


Die omstrede ANC-jeugliga is weer onder die soeklig nadat “ontdek” is dat sy rykdom van 2009 nou skielik weg geraak het.

Magasela Mzobe, die jeugliga se koördineerder sê hulle het geen benul wat van die miljoene geword het nog in 2009 in Lembede Investment Holdings was nie.
.
Malema, voormalige jeugliga-president, het destyds aangekondig dat Lembede gesluit word weens wanbestuur en geldverduistering. Die bates sou oorgedra word na ’n Jeugtrust, maar het blykbaar nie gebeur nie.

Mzobe sê die taakspan ondersoek nou bewerings dat Lembede se aandele bates van meer as R100 miljoen deur ’n lid van die jeugliga vir R3 miljoen verkoop is.

Wat van dié R3 miljoen geword het, kon hy ook nie sê nie.
Volgens Mzwandile Masina, leier van die taakspan wat die jeugliga moet regruk, het die jeugliga ook geen trust wat hom uit die penarie kan red nie.

Mzobe het gesê hulle is druk besig om die jeugliga te herskep en laat die geldelike probleme wat die jeugliga van sy voorgangers geërf het dus aan die ANC oor.