Hoogste hof eersdaags politieke instrument?


Die ANC-regering is besig met ’n eienaardige ondersoek na die hoogste howe van die land.

Dit is die mening van verskeie meningsvormers en senior regsgeleerdes.

Die indruk word gelaat dat die Regering met onderduimse planne besig is, word gesê.

Die onverwagse, en blykbaar ontydige aankondiging deur die Minister van Justisie, Jeff Radebe, dat sy Departement voortgaan met die ontleding van die Konstitusionele Hof en die Appèlhof se uitsprake, laat die wenkbroue lig.

Radebe het in die parlement gesê die voorlopige bevindings word teen 31 Maart 2014 verwag. Die ontledings moet glo bepaal in welke mate die twee hoogste howe bydra om die Suid-Afrikaanse samelewing te transformeer.

Die vraag wat nou op menige se lippe is en gevra word, is wat het die howe in die land met politieke beleid van die ANC te make? Moet die howe nou instrumente van sekere politieke sienings word, is gevra.