Hofsaak tussen Player en vriend


Gary Player, Suid-Afrika se gholflegende van die vorige eeu, sê hy gaan in die hof wys dat hy sy voormalige vriend, die welgestelde sakeman Dave King, nie ’n sent skuld van die meer as R30 miljoen wat nou van hom geëis word nie.
King, wat op sy tyd een van Suid-Afrika se rykste sakemanne was, beweer nou dat Gary Player nie die lening van sowat R6 miljoen terug betaal het nie. Die bedrag is glo 14 jaar gelede aan Player geleen.
Dit is teen vandag se Randwaarde meer as R30 miljoen wat King nou met rente opeis.
King het blykbaar reeds die Grahamstad Hooggeregshof genader om beslag te lê op aandele in ’n plaas buite Colesberg waar ’n perdestoetery bedryf word.
King beweer in hofstukke dat een van sy trusts, Talacar Holdings, 49%-aandeelhouding in die plaas het en Player 51%.
Die hof het ’n tussentydse interdik aan King toegestaan. Die onus is nou op Player om redes aan te voer waarom die interdik nie bekragtig moet word nie.
Foto- Player