Groter tekort op handelsbalans


Suid-Afrika se handelsbalans het in April met ‘n tekort van R15-miljard geëindig volgens die maandelikse verslag van SARS wat op 31 Mei bekend gemaak is. Die tekort is aansienlik groter as die tekorte van R7,8-miljard in Maart en R9,5-miljard in Februarie.

Invoere vir April het met R8,7-miljard (12,1%) toegeneem tot R80,6-miljard, terwyl uitvoere gestyg het met R1,9-miljard (3%). Daar was verhoogde invoere ondervind met minerale produkte, basiese metale, masjinerie en elektriese toebehore, plastiek en rubber en toerustingonderdele. Die swak rand wiselkoers het ‘n verdere bydrae tot die styging in invoere veroorsaak.

Die negatiewe handelsbalans begin om kommer te wek en staan reeds op ‘n ongunstige saldo van R57-miljard vir die eerste vier maande vanjaar, teenoor R36,6-miljard vir die vergelykende tydperk verlede jaar. Die handelstekort vir die volle 2012 jaar het negatief geëindig op R117,7-miljard teenoor 2011 se R16,9-miljard.