Groot opwinding oor Volkstaat rugby


Groot opwinding heers oor eerskomende Saterdag se rugby wedstryd tussen die twee volksdorpe – Orania en Kleinfontein.

Verlede jaar het die twee “volkstaat” dorpe se rugbyspanne vir die eerste keer kragte gemeet vir die Volkstaat beker. Kleinfontein het in daardie wedstryd 37-7 geseevier op hul tuisveld. Uitstekende rugby is opgedis deur albei spanne wat menigte ondersteuners kinderlik opgewonde gehad het.

Eerskomende Saterdag, 22 Junie, reis Kleinfontein na Orania om die Volkstaatbeker te verdedig. Volgens die getroue ondersteuners van albei spanne gaan dit hierdie jaar nie so maklik wees vir Kleinfontein om Orania te tem op hul tuisveld nie. Orania was hierdie seisoen gereeld in die nuus nadat hulle ingeskryf het in Griekwaland-Wes rugby-liga. Orania beskik dus oor baie meer wedstryd ondervinding.

Die kaptein van die Kleinfontein Krygers, Jan Beyers, meen egter dat die meer wedstryd ervaring die Krygers nie sal afskrik nie. “Ons het self twee uiters suksesvolle oefenwedstryde gehad die jaar en het selfs ‘n groot bekende rugbyklub groot skrik op die lyf gejaag met wat hulle beskryf het as ons boere-moed” aldus Beyers.

Al is Orania die jaar die gunsteling met tuisveld voordeel, meen Beyers die beker ry saam terug Kleinfontein toe. “Ons het ‘n 60-sitplek bus vol ondersteuners wat saamgaan na Orania. Die Transvaalse Vierkleur sal orals langs de veld wees en sal ons aanspoor om weereens ons beste te gee” aldus Beyers.

Vanjaar is ook die eerste jaar dat daar ook in Netbal meegeding gaan word. Die Kleinfontein Kiewiete en die Oranzi’s gaan om hul eie beker meeding.

Die netbal skop 12:00 af, en die rugbywedstryd om 14:00.