Franse ekonomie benodig staatmanskap


In Frankryk gaan dit tans maar sukkelend met die ekonomie onder die land se sosialistiese regering van Francois Hollande. Daar word gereken dat Frankryk tans in ‘n swakker ekonomiese toestand verkeer as Brittanje in 1970. Henri de Castries, voorsitter en HUB van Axa, die wêreld se grootste versekeraar in premie inkomste, het in ‘n onderhoud met The Sunday Telegraph van Brittanje gesê dat Frankryk by Brittanje kan leer hoe om sy ekonomiese krises op te los na aanleiding van Brittanje se ekonomiese herstel uit sy krises in 1970. De Castries sê dat Hollande moet besluit of hy ‘n Harold Wilson of ‘n Tonie Blair wil wees, hy sal nie van hom verwag om ’n Margaret Thatcher te wees nie.

Die Europese Kommissie het verlede week vir Frankryk geadviseer om sy arbeidskoste te besnoei, pensioenstelsel te hervorm en sy beskermende markte te open in ruil vir ‘n twee jaar vensterperiode om sy begrotingstekort onder die vereiste 3% van sy BBP te bring.

De Castries het bygevoeg dat die Europese Kommissie reg is deur te sê dat Frankryk ‘n uiterste behoefte het aan ernstige strukturele aanpassings in sy arbeidswette, onderwys en staatsbesteding. Hy het daarop gewys dat Frankryk se openbare spandering 56% van sy BBP is, wat 10% hoër is as die gemiddeld van die EU. Hierdie 10% verteenwoordig €200-biljoen per jaar in Frankryk se ekonomie van €2 000-biljoen.