Foutbal


Dis weer die eerste keer in ’n lang tyd waar daar ’n sport gebeurtenis is waaroor geskryf kan word. Ek praat nou nie van die bokspringe se toets waar daar meer oor die kroonjuwele insident as die rugby geskryf is nie. Nee, ek praat van regte volkseie sport.

Hierdie is die tweede jaar waar daar om die Volkstaat beker meegeding is. Vir die oningeligtes, dis die geleentheid waar die rugbyspanne van Kleinfontein en Orania meeding om ’n beker om te bepaal wie die volkseie rugby span het.

Hierdie jaar was dit Orania se beurt om die geleentheid te huisves. Die Kleinfonteiners het Vrydag die lang tog per bus Orania toe aangepak. Saterdag is daar ’n toer deur Orania meegemaak voordat die sport in alle erns begin het. Vir die eerste keer die netbal spanne van die onderskeie dorpe ook meegeding om ’n trofee. Ek moet bieg dat ek nie te veel van die spel verstaan nie. Miskien sal ek by die dames moet kers opsteek om my die reëls te leer. Ek kan darem al verstaan waarvoor die afkortings op die dames se onderbaadjies staan. Twee spelers wat uitgestaan het, was die hoofdoel van Kleinfontein, wat selde gemis het as sy moes aanlê na die doelpaal. Aan die ander kant van die baan het die doelverdediger van Kleinfontein menige doel poging van Orania gefnuik en vele balle terug gewen vir die Kleinfontein Kiewiete. Met haar lang arms het sy dit baie moeilik gemaak vir die doel van Orania. Ek moet erken dat ek so tussen ander pligte nie heeltyd telling gehou het nie. Soos ek verstaan was die eindtelling 26-12 ten gunste van Kleinfontein.

Hierna het die groot oomblik aangebreek. Die rugbyspanne van die Kleinfontein Krygers en die Orania Rebelle het die veld opgedraf. Voor die afskop het die manne eers netjies op aandag kom staan. “Ken gij dat volk” is uit volle bors gesing deur rugbyspelers en toeskouers. Nou was dit tyd vir aksie!
Die Krygers het die eerste paar minute van die wedstryd oorheers. Binne die vyf minute het die agtste man van die Krygers met ’n stormram lopie onder die pale gaan druk, maar die vervyf skop is gemis. Die Rebelle het wakker geskrik en die meeste van die eerste helfte van hier oorheers. Veral die buite senter van die Orania het hoogstaande spel gelewer. Hy het telkens bresse in die middelveld geslaan. Die manne van Orania glo ook nie aan pale toe skop nie. Telkens is daar vinnig gespeel nadat ’n strafskop toegeken is. Dit het ook gelei tot een van hulle eerste helfte drieë. Met lemoentyd was die telling 12-5 in Orania se guns.

Die afrigtingspan van die Krygers moes hard gepraat het met die manne tydens rustyd. Hulle het die tweede helfte begin soos wat hulle die wedstryd begin het en verbete aangeval. Die verdediging van die Rebelle het egter aanval na aanval gestuit. Orania het ook daarin geslaag om die tweede helfte se eerste punte aan te teken. Met die telling op 17-5 het dit gelyk of dit neusie verby vir die krygers was, veral nadat hulle slot 10 minute in die boefblik moes deurbring na ’n geelkaart. Hier het die Krygers groot veggees vertoon deurdat daar geen punte teen hulle aangeteken was in hierdie tyd nie. Met vyf minute in die wedstryd oor, het die Krygers oorgedryf vir hulle tweede drie. Met ’n telling van 17-12 was daar weer alles om voor te speel. Dit het gelyk of Kleinfontein ’n tweede asem gekry het en hulle het gevorder tot 5 meter vanaf die doellyn. Die Rebelle het egter die bal afgeneem en veld op geskop. Die Kleinfonteiners het die bal met alle geweld probeer behou, maar is gestraf nadat die bal op grond vasgehou is. Al die manne was doodmoeg en die Rebelle het vir die eerste keer na ’n strafskop besluit om pale toe te skop. Nadat die bal deur die pale gejaag is, het die eindfluitjie geblaas. Die Volkstaat beker sal vir ten minste die volgende jaar in die trofeekas van Orania pryk.