Ek sien dit so!


Dis darem heerlik om te sien hoe ons mense soos volwassenes met mekaar kan kommunikeer, en selfs soms argumenteer. Dit is juis hierdie konstruktiewe kommunikasie wat duidelik na vore getree het na afloop van verlede week se uitgawe van hierdie rubriek. Van Neelsie se kant af, baie dankie!

Terwyl die Reënboognasie se hoofstroommedia elke geleentheid aangryp om die toestand van hul afgod tot vervelens toe uit te basuin, is ons hier by Die Vryburger besig om saam met die getroue lesers te bou aan ‘n nuwe toekoms vir ons nageslag. Soos elkeen seker bewus is, is die daarstelling en uitbouing van ‘n Volkskoerant nie ‘n maklike taak nie. Veral nie as die redaksie van so koerant verkies om agter maskers te werk nie. Hierdie einste onderwerp is gelukkig ook al goed bespreek en ek glo die meerderheid daarbuite is tevrede met die verduidelikings wat gelewer is.

Nou moet ek ongelukkig hierdie week weer die onderwerp van sport uitlig. Dit is nie noodwendig vir my ‘n aangename onderwerp nie, maar as ek dinge sien wat skeefgetrek voorkom, sou ek my plig versuim om dit nie te openbaar in “Ek sien dit so!” nie. My vorige siening het te make gehad met die krieket wat plaasgevind het in Brittanje. Nou is ons terug op eie bodem met verlede Saterdag se rugby op Loftus Versfeld. Meer spesifiek die toets tussen die Springbokke en Samoa.
Neelsie was ‘n baie groot rugbyondersteuner, nooit finansieel nie, maar wel wanneer dit kom by kyk van wedstryde op televisie. Ek verstaan die spel, ek het die spelers se name, sterkpunte en swakpunte geken. Gelukkig het ek moeg geraak vir die politiekery in sport oor die algemeen en loer tans net so terloops vir wat gaande is. So ‘n geleentheid het homself voorgedoen terwyl die spelers sowel as die grootliks blanke skare besig was om ‘n gebed op te dra aan ‘n wese wat ons heel moontlik as die Kinder-Bybel Duiwel kan beskryf. Wat op dees aarde gaan aan in Afrikaners se koppe? Ek merk toe dat almal op hul voete staan en talle hul linkerborsies vasknyp asof hulle weet waarvan hulle sing. Die spelers met hul Volksmoordvlaggies agterop hul krae is net so passievol soos die gebreinspoelde skare. Daar is selfs ‘n bekende(berugte?) Afrikaanse sanger met ‘n kapsel wat hom eerder moet noop om ‘n nuwe haarkapper te kry, wat die aanbidding moet lei. Sulke tonele ruk my altyd terug na die realiteite waarmee ons mense op ‘n daaglikse basis te doen het. Tog is die harde realiteit dat ‘n Volksmoord plaasvind, nie iets waarmee die deursnee rugbyondersteuner hom/haarself bemoei nie. Solank die Bokke net wen is die Kaap Hollands!

Tot in my kleintoontjie skaam ek my vir hierdie lamsakkige geslag Afrikaners wat sport belangriker ag as die bloedvergieting wat tans plaasvind onder bure, vriende en familie. Aan die ander kant; dit is seker nie nodig dat ek skaam hoef te kry oor hulle onnoselheid nie. Dalk is hulle bestraf met Volksblindheid. Miskien is hulle deur sportmal ouers grootgemaak wat nie ‘n bloue duit omgee vir die voortbestaan van hul nageslag nie. Hoewel enige van bogenoemde water kan dra, sou Neelsie eerder sê dat hulle so sleg geraak het dat oorlewing binne ‘n kommunistiese bestel beter is as om te stry vir onafhanklikheid, veiligheid en vryheid vir hulle wat nog gebore moet word.

As jy moet, kyk jou rugby, geniet jou sport. Maar asseblief tog, moenie jou naam met ‘n plank slaan deur op aandag te staan vir ‘n lied en ‘n vlag waaronder jou mense gemartel, vermoor en verkrag word nie. Belangriker nog, moenie toelaat dat sport tussen jou en deelname aan jou Volk se vryheidstryd staan nie. Deur die wreedaardige Volksmoord te ontken, maak jou aandadig tot daardie Volksmoord. Raak betrokke! Doen jou huiswerk en gaan besoek die volgende twee webtuistes om bewus te raak van aksies waarmee Boere-Afrikaners besig is. www.vvk.co.za en www.volksraad.co.za

Boeregroete,
Kordaat Neelsie