Die stryd om volksvryheid


Mnr. Ben Geldenhuys, lid van die Boere-Afrikaner Volksraad het tydens die Republiekfees vieringe te Paardekraal, belangrike gegewens bekend gemaak rondom die werksaamhede van die Volksraad, en oor bepalings van die Internasionale reg soos vervat in klousules van die VN.

Onderstaande is ’n uittreksel uit mnr. Geldenhuys se toespraak wat gelewer is:

Dit is nou 18 maande sedert die Boere-Afrikanervolksraad ingehuldig is. Die Volksraad is verkies met ‘n spesifieke mandaat – om die Vryheid van die Boere-Afrikanervolk te hertel. Om hierdie mandaat uit te voer, het die mandaatgewers, die kiesers, die Volksraad 18 maande tyd gegee.

Hierdie 18 maande is nou verstreke.

Dit berus dus nou by die mandaatgewers om te besluit of die Volksraad se mandaat verleng moet word, al dan nie. Om hierdie besluit te neem, is dit belangrik dat die mandaatgewers ‘n ingeligte besluit moet neem.

Vergun my dus die geleentheid om daardie inligting aan u bekend te maak.

Dit is uit die staanspoor belangrik om te besef dat die proses wat die Volksraad volg, nie ‘n politiese proses is nie, maar ‘n juridiese proses. Die basis van die regsargument waarop die Volksraad se proses berus, is ‘n VN verdrag by name Internasionale Konvensie op Burgerlike en Politieke Regte (International Covenent on Civil and Political rights), wat bindend is op alle lidstate van die VN wat dit onderteken het.

Artikel 1 van hierdie verdrag bepaal as volg: All peoples have the right to selfdetermination. By virtue of that right they freely determine their political status and freely persue their economic, social and cultural development. In Boere taal beteken dit, alle volke het die reg op selfbeskiking.

Artikel 2 bepaal, dat elke land wat hierdie verdrag onderteken, onderneem om wetgewing in plek te sit, om uitvoering aan hierdie regte te gee. En dat daar effektiewe toeganklike prosesse daar gestel moet word, om aan enige persoon wie se regte geskend word, ‘n remedie daar te stel. Verder ook dat hierdie remedies met bevoegde administratiewe, juridiese en wetgewende prosesse uit gevoer sal word.

Artikel 27 bepaal dat in daardie state waar daar etniese, geloof en taal minderhede is, sal sulke minderhede nie die reg ontneem word om hulle eie kultuur, geloof en taal uit te leef nie. (Dit net so terloops)

Die vraag is natuurlik, het Suid-Afrika hierdie verdrag onderteken? Inderdaad is die ANC regime ‘n ondertekenaar van hierdie VN verdrag.
Dit is ook duidelik dat die ANC regime nie doen dit wat hulle onderneem het om te doen in terme van hierdie verdrag nie. Artikel 235 is daar, maar daar is geen wetgewing of prosesse om uitvoering te geen daaraan nie.

Nou by wie kla ons of waar kla ons hulle aan?

Die internasionale menseregte komitee in Geneve, is die liggaam wat klagtes in die verband hanteer. Hulle het baie duidelike riglyne oor wie mag so klagte bring en die vereistes vir so klag alvorens hulle dit sal ontvang.

Die belangrikste hiervan, is dat alle plaaslike remedies uit geput moet wees. Maar nou het ek ook vir u gesê dat daar is nie plaaslike prosesse geskep wat as remedies kan dien nie. Gevolglik was die Volksraad aangewese op ‘n natuurlike regsproses.

In ‘n alledaagse regsproses, plaas die persoon wie se regte geskend word, die persoon wie sy regte skend op terme. (Dit is daardie eerste brief wat dreig, doen wat reg is, of ek gaan praat met my prokureur.)

Hierop volg gewoonlik ‘n Prokureurs brief en uiteindelik kan die saak in ‘n hof of howe draai.

Dieselfde proses het die Volksraad gevolg. Onthou nou, daar bestaan ‘n moontlikheid dat ons aan die Menseregtekomitee moet gaan bewys dat ons alles in ons vermoë gedoen het om die regime so ver te kry om met ons te praat oor ons reg op selfbeskikking.

Daarom het ons verskeie briewe aan die staatshoof geskryf. Op een van die briewe het ons darem ‘n ontvangserkenning ontvang, maar niks meer as dit nie.
Ons het ook ‘n prokureur opdrag gegee om ‘n aanmaning aan Zuma te skryf, maar ook hierop het hy nie gereageer nie.

Omdat daar geen proses is in Suid-Afrika nie en omdat die VN dit ag as ‘n menseregte skending, het ons ook ‘n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ingedien in Desember 2012. Dit is maar ‘n patetiese lot en dit het hulle tot middel Mei geneem om te besluit of hulle nou jurisdiksie oor die aangeleentheid het of nie. Ons het ook aangedring om hulle te gaan sien en kon uiteindelik op 13 Mei 2013 ‘n afspraak met hulle kry, waar hulle beloof het om ‘n antwoord van soort gereed te he binne ses tot sewe weke.

Ons verwag egter niks positief van hulle nie en gevolglik is ons gereeld in vergadering met ons regspan, wat Senior Advokate en ander bekwame regsgeleerdes insluit.

Een opsie is om die regime te sleep voor sy eie Konstitusionele hof. Dit is egter ‘n lang proses en waarskynlik ‘n baie duur proses. Dit mag dalk wees dat hierdie stap ‘n regsvereiste gaan wees, voor ons die saak na die Menseregtekomitee in Geneve sal kan neem. Ons regspan is hard besig met navorsing oor die saak.
Sou dit egter nie nodig wees nie, sou die volgende stap die Menseregtekomitee in Geneve wees.

Ons mandaat tydperk is egter verstreke. U as kieser moet gevolglik nou besluit, verleng u ons mandaat en gaan ons voort, of jaag u ons weg omdat ons nie die werk betyds kon afhandel nie.

Die proses om die volk se wil te bepaal in die aangeleentheid, het ons besluit op ‘n proses wat in gebruik was in die ZAR, nl. Memories. In kort word die volk genooi om aan die Volksraad te skryf wat u nou van ons verwag.

Ben Geldenhuys – Uittreksel uit toespraak soos gelewer te Paardekraal op 1 Junie 2013