Die Kandelaarplant…Indringerplant


Die stryd teen onkruid is nimmereindigend. Ons kan die onkruid duidelik sien wanneer dit winter is en die plante en gras in die veld besig is om te gaan rus vir die winter.

Die Kandelaarplant of ook genoem Kalanchoe delagoensis is nogal mooi, maar dit is ’n onkruid wat baie vinnig versprei. Ons moet hom maar liewer uitroei voordat hy saad kan versprei. Die Kandelaarplant is ’n skraal, regop vetplant en kom oorspronklik van Madagaskar. Die plant groei regop en word 1 meter en hoër. Die Kandelaarplant se blare is grys/groen/bruin met kolle en is silindervormig. Hierdie plant (onkruid) word ook “moeder van miljoene” genoem, want ongewone uitgroeisels verskyn aan elke blaarpunte en vorm klein plantjies in die oksels. Die nuutgevormde plantjies val dan af en dan groei daar letterlik miljoene plantjies. Die oranje/pienk blomme wat die plant dra, hang soos klokkies na onder en lyk soos ’n kandelaar.

Die plant laat mens nogal aan aalwyne dink en groei ook baie goed waar aalwyne groei. Dit is ’n geharde plant en uiterste koue en droogte bring geen skade aan hom nie. Hulle groei ook sommer net daar waar hulle weggegooi word, waar die wortels van die plant skaars aan die grond raak. Hulle groei ook selfs in die klipperigste grond waar ander plante sal sukkel om te groei. Hulle floreer juis daar!

Hierdie plante, veral die blommetjies is giftig en indien enige diere dit eet, sal die diere doodgaan. Die plante blom juis gedurende die droër maande van die jaar en daarom moet ons juis ons vee nie in die veld waar hierdie plante g roei, laat wei nie.

Wanneer ons hierdie plante in ons tuine sien, moet ons dit liewer dadelik uitroei want dit is ’n geklassifiseerde onkruid. Dit is beter om hulle juis uit te roei wanneer hulle nog klein plantjies is, dan is daar nie ’n kans dat daar alreeds nuwe plantjies aan die blare gevorm het wat kan versprei nie. Volgens bronne is dit eintlik beter om die plante, wanneer uitgetrek, te verbrand. Dit is die beste voorkomende maatreël teen verspreiding.

Geniet nou u sitrusvrugte wat verkoue en griep keer en onthou om plante en bome teen ryp te beskerm.

Maak seker dat u u hande was nadat u met hierdie giftige onkruid gewerk het.