CVO Pretoria se besondere Saterdag


Daar kom ‘n tyd wanneer mens net ontsaglik dankbaar is om deel van ‘n baie spesiale groep mense te wees. Daar kom ‘n tyd wanneer woorde opraak en niks wat mens sê of skryf, reg kan laat geskied aan wat ek Saterdag beleef het nie! Ons het hier met ‘n baie spesiale groep mense te doen. Ek praat van mense wat hulleself, hul tyd, hul geld en hulle hele bestaan gee, nie vir hulself nie, maar vir ‘n groepie mensies wie ons die voorreg het om ons kinders te noem! Ek praat van die mense van CVO Pretoria!

Eerstens, Schalk, daai skool kan en sal nooit dieselfde sonder mense soos jy wees nie! Om die saak te kroon, het hy vasgesteek soos ‘n donkie en botweg geweier om op die verhoog te klim nadat ek hom hoeveel keer gevra het of ek hom net vir 5 sekondes daar kon opkry. Weer eens besef ‘n mens dat dit nie vir hierdie groep mense saak maak hoeveel hulle van hulself moet gee nie. Dit gaan nie om selfverheerliking nie, maar werklik net oor ons kinders.

Ek vind verdere bewys daarvan as mens instap by die hamburger-fabriek wat “loop soos stroop”. Daardie ouers wat hulle eie kaartjies betaal het vir ‘n Steve-konsert, en dan die hele aand agter in ‘n tent gaan staan en werk en nie eens vir Steve te siene gekry het nie! Ek sien Pa’s wat staan en hamburger-patties braai, ver van die kollig, daar waar niemand eers by hulle kan uitkom en dankie sê vir die moeite (en ‘n fantastiese lekker hamburger) nie. (Ek het vroeër die middag twee in ‘n ry weggepak. Een was genoeg, maar dit was eerlikwaar net te lekker om die tweede een te los! Ek skuld vir Jean groot, wat vroeg die braaier aangesteek het om net vir my en my laaitie kos te kon gee!)

Die koeldrank raak net eenvoudig nie op nie (ek skuld nog R10 vir een op skuld geneem), en selfs toe dit laat was en ons klaar was, en almal omtrent reg was om te ry, was daar steeds warm koffie (waarvan ek ook nie net een gedrink het nie, skuld daar ook nog R8!). Deur die aand word liggies verkoop, die kragpunt wat moeilikheid gegee het word uitgesorteer, die kunstenaars is versorg, dinge word uitgesorteer en dinge werk… niks waarvan sou gebeur het as elke ouer wat gehelp het nie sy deel bygedra het nie.

Dankie aan elkeen vir Saterdag. Ons reël net eenvoudig iets (soos rugby en netbal of ‘n Steve-konsert), en dan is daar mense wat alle las van mens se skouers afhaal en dinge maak werk. Vir elke ouer wat deel was van Salomien se “hamburger-fabriek” Saterdagaand en haar ook gehelp het met die kos Saterdagoggend, die span mense wat Waldi bygestaan het met die koeldrank, ook Waldo (ten spyte van eksamens) en Ronelle wat in die donkerte Saterdagoggend gehelp laai en die heeldag gewerk het, Arie (ook bekend, of berug, as Hoofseun) wat een van die laastes was om Saterdagaand daar pad te gee ook ten spyte van eksamens, vir Elsabè wat die oggend se sport basies alleen gehanteer het met Phlip se hulp (en dan nog die aand die koeldrank-wa ook bestyg het), Christelle se hulp met veral die reël van al die skiedsregters vir die netbal , Corrie (Juf Clarette se man) en Dirk wat sommer ingeval het as lynregters en afrigters by die rugby en so ook vir jul hulp by die konsert, elke ouer wat Saterdagaand ingespring en gehelp het en bygedra het tot ‘n reusagtige suksesvolle aand, ‘n groot dankie VERAL aan Wilma wat teen hierdie tyd sekerlik al ‘n migraine ontwikkel elke keer as Kees of Schalk op die lyn is, Marli en Cynthia wat twee soms moeilike mans (OK, in Cynthia se geval “altyd” moeilike man) bygestaan het toe die slaap maar min was en die dinge nie lekker volgens plan wou uitwerk nie, aan elke liewe mens wat hiermee gehelp het, hiermee dan namens elke ander ouer in die skool (vir wie se kinders julle dit ook gedoen het), ‘n ontsettende groot dankie!

Meer as dit, namens elke kind, die meeste van wie nog hopeloos te klein is om die werklike impak hiervan te kan besef, erg baie dankie vir al die harde werk! Hulle sal dit wel later in hul lewetjies besef!

Ek het op meer as een geleentheid Saterdagaand, op- en van die verhoog af, net gestaan ek kyk na wat voor my was. Ek wens elkeen van julle kon sien wat ek gesien het. Ek sien kinders hardloop met liggies in hul hande, ek sien- en hoor kinders lag. Ek sien vure. Ek sien jong Afrikaanse kunstenaars optree by ONS skool. Ek sien hamburger- en koeldrank-stalletjies, maar geen rye van mense wat moet staan en wag nie. Ek sien ‘n menigte mense op ONS skool se rugbyveld, ek staan op ‘n splinternuwe 5-ster buitelug-verhoog met ‘n ontwerpersdak – iets wat geen mens kon dink ons ooit sou hê nie!

Ek sien hoe mense hulself gate uit geniet, ek loop tussen die mense deur en hoor hoe hulle saam met Steve sing. Ek word honderd maal gevra of ek kan help dat iemand net gou vir Steve kan ontmoet. Ek hoor hoe Steve praat van plaasmoorde en my hart trek ‘n knop. Ek hoor hoe Steve sê “Hallo CVO Pretoria” en ek hoor hoe duisende mense met ‘n geskreeu antwoord – my tone krul om van lekker kry! Hy praat van Afrikaanse skole en ek weet – ek weet my kinders is op die regte plek! Hy sê ons is taai en dat ons deur die geskiedenis, ten spyte van ‘n minderheid, aanhou wen het – dit weet ek, maar my tone krul weer om!

Hy praat van ‘n volk wat op sy knieë sak en by God hulp soek – en jy kan ‘n speld hoor val…duisende mense op ‘n rugbyveld…doodstil. Dan sing Steve weer en almal sing weer saam. Ek staan langs die verhoog en kyk weer na dit wat voor my is en vat Schalk aan die skouer – sonder ‘n woord tussen ons knik albei net – ONS WEET. Ek kyk op hemel toe en sien die mees perfekte wintersaand vir ‘n buitelugkonsert. Ek kry ‘n Blackberry vanuit die skare en gee hom vir sy regmatige eienaar terug. Ek is weer op die verhoog en sien alles weer. Die prentjie is…wel…absoluut perfek!!!

Aan almal, dankie dat ek die ou kon wees wat Saterdag (by beide die rugby en netbal sowel as die konsert) bykans niks gedoen het nie, maar voor duisende kon staan en spog met ons skool, en dankie vir daardie prentjie wat mens daar van voor af (op- en van die verhoog af) te siene kon kry, en ek met my in my gedagtes en hart sal kan saamdra totdat ek eendag my laaste asem uitblaas!

Ek kan ‘n boek skryf oor Saterdag, wat sal begin by die oggend se rugby en netbal en sal strek tot die aand waar ek die saal se deur vir die laaste keer gesluit het, en ons skoolgronde stil en leeg was. Die oorweldigende gevoel wat mens kry as mens na al hierdie dinge kyk is een van dankbaarheid, en voel ek klein, nederig, ontsaglik bevoorreg …en hartseer, want ek besef dat daar so min sulke spesiale mense is wat die wêreld ‘n beter plek maak. Ek besef dat dit net met die liefde- en oneindige genade van ons Groot Almagtige God en Hemelse Vader is dat my kinders die voorreg het om saam met al hierdie spesiale mense van CVO Pretoria se kinders te kan skoolgaan.

Daar is net nie woorde nie…