Boedapest oorstroom.


Boedapest is die jongste stad wat deur vloede getref is nadat die Donou se walle oorstroom is.

‘n Buitengewone nat lente het gemaak dat die Elbe, Donou en verskeie ander riviere in Oostenryk, Duitsland, Poland, Slovakië, die Tjeggiese Republiek en Hongarye oorstroom is. Tienduisende mense is dakloos gelaat, spoor- en padverkeer is ontwrig en skade van biljoene Euro’s is aangerig.

‘n Noodtoestand is in Boedapest afgekondig en daar word verwag dat die skade tot in die noorde van die land sal plaasvind.

Die Burgemeester van Boedapest, Istvan Tarlos het in ‘n persverklaring gesê dat die Donou die 2006 vloedrekord van 8.6 meter in 2006 verbygesteek het na 8.91 meter.

Hongarye het 7000 soldate, bygestaan deur ‘n paar duisend vrywilligers, ontplooi om die dyke langs die rivier te versterk. Een van die vrywilligers was die Eerste Minister, Viktor Orban wat in die noorde van Boedapest sy deel gedoen het.

Ook in Duitsland het vrywilligers op oproepe deur sosiale netwerke gereageer en hulleself in spanne georganiseer om te help om dyke te versterk en bedreigde gebiede te beskerm.