Araujia sericifera oftewel “motvanger”.. Indringerplant kategorie 1


Hierdie is ’n groeikragtige immergroen rankplant en al dra hy nou hierdie pragtige blomme, is hy ’n indringerplant wat uitgeroei moet word. Die motvanger is familie van die Apocynaceae plante.

Die motvanger is oorspronklik van Suid Amerika afkomstig en dit groei baie goed in verskillende klimaatstreke, van subtropiese kusstreke tot koue gebiede met ryp. Dis nogal ’n geharde plant. Die blomme is baie geurig en is wit tot pienk klokvormig en versier die ranke omtrent die heel somer. Die blomme is omtrent 2 cm in deursnee met 5 blare die blomme word deur motte bestuif, daarom die naam “motvanger” . Na die blomme dra die plant peervormige, sponsagtige groen vrugte/peule van omtrent 10 cm lank en 6 cm breed is. Die groot vrug/peul bars dan oop en stel die swarterige, afgeplatte saadjies van sowat 6mm, elk met ’n vrugpluisie bo-aan vry en die wind versprei dit die hele wêreld vol.

Hy rank tot 7 meter hoog en wanneer hierdie plant se ranke gebreek word, skei hy ’n onwelriekende, giftige melk af. Pasop vir u oë want volgens bronne brand hierdie melk jou oë indien dit daarin beland. Dra altyd handskoene wanneer met hierdie rankers gewerk word.

Die beste metode om hierdie plant uit te roei, is om die hoofstam te vind en 20 tot 30 cm bo die wortelstelsel af te sny. Behandel dan die oorblywende stuk stam met ’n boom-doder en gaan dit gereeld na om te kyk dat die plant nie dalk weer uitloop nie. Indien dit weer groei, hou aan om dit met hierdie metode te behandel totdat hy heeltemal dood is.

Hierdie plante is so mooi, maar onthou, hy verdring al u ander kosbare plante en so verloor ons die kosbares en die indringers floreer. Die beste tyd om hom uit te roei, is juis nou in die winter.

Sterkte met u tuin en die koue.