ANC wil wit jeug akkommodeer


’n ANC-LP, Judy Tshabalala vra dat die wit en die swart jeug oor dieselfde kam geskeer moet word, want die ANC het die bevrydingstryd vir nie-rassigheid begin en deurgevoer.
Sy het dit kwytgeraak tydens die jaarlikse parlementêre debat ter viering van Jeugdag, wat weer op 16 Junie herdenk word.

Tshabalala reken daar is toenemende aanduidings dat die wit jeug uitgesluit voel en dit moet nie gebeur nie.

“Ons vra dus vir die wit jeug se insluiting in alle patriotiese en aktivistiese jeuggeleenthede. Hulle moet nie verskillend behandel wil word nie en ons kan nie as jeug verlos wees van die Boeie van Apartheid net om toe te laat dat ons weer in groepe afgekamp word nie”, het sy gesê. .

Sy het ook gewys daarop dat daar verskille is, maar “Ons almal is Afrikane”.

’n Woordvoerder van Oranje Sake Instituut het daarop gewys dat die LP duidelik uit voeling met die werklikheid is. Die eerste stap wat die ANC moet toepas, is om diskriminerende wette, en ondermeer die sogenaamde “affirmative action” onverwyld af te skaf.

Voordat die diskriminasie teen blankes nie uit die weg geruim is nie, kan daar nooit sprake wees van samewerking nie, en geen maatreël kan integrasie beter teenwerk as diskriminasie nie, het hy gesê.
.