Aftree ouderdom 70 jaar vir Britte


Volgens Tom McPhail, pensioene spesialis van Hargreaves Landsdown, sal die normale aftree ouderdom in Brittanje binne die volgende tien jaar tot 70 jaar verhoog word. Een van die hoofredes is dat persone dit nie meer kan bekostig om voor sewentig af te tree nie.

Die ekonomiese klimaaat in Brittanje het in onlangse tye tot gevolg gehad dat besparings deur individue en die groei in pensioenfondse afgeneem het. Persone leef ook langer wat veroorsaak dat meer kapitaal vereis word om van te leef. Die lewensverwagting vir Britte is 79,4 jaar.

In Europa is die aftree ouderdom ook besig om opwaarts aangepas te word, aangesien die lewensverwagting van mense aan die toeneem is. In Duitsland is die gemiddelde lewensverwagting tans 79,4 jaar, Oostenryk 79,8, België 79,4 en Frankryk 80,7.

Die VSA se gemiddelde lewensverwagting is 79,4 en Suid-Afrika se gemiddelde lewensverwagting, alle bevolkingsgroepe ingesluit, is 60 jaar.