Zimbabwe se nuwe Grondwet van krag


Robert Mugabe, die president van Zimbabwe het die land se nuwe Grondwet onderteken. Daarmee is die weg gebaan vir die land se volgende presidentsverkiesing later vanjaar.

Hy het die dokument 2 maande na dit in ‘n referendum goedgekeur is, onderteken.

‘n Nuwe Grondwet is een van die voorvereistes vir vanjaar se verkiesing waarvoor Zimbabwe gereed maak vir die eerste verkiesing sedert 2008. In daardie jaar het die Mugabe-Tsvangirai Eenheids regering wankelrig tot stand gekom.

Die verkiesing is gehou te midde van geweld en intimidasie wat ook die lewens van meer as 200 mense geëis het.

Dié nuwe Zimbabwese Grondwet sal presidensiële mag aansienlik verminder terwyl die parlement s’n verhoog.

Die verkose president se termyn verminder ook tot hoogstens 2 termyne van vyf jaar elk.

Die pos van Eerste Minister verval.

Mugabe (89) het in 1980 president geword en het by geleentheid gesê dat die huidige Eerste Minister, Tsvangirai nie in sy leeftyd president sal word nie.