Wie is ons, Afrikaners of Boere?


Definisie van ‘n volk

Alvorens die aangeleentheid van naderby bekyk word, moet ons eers probeer bepaal wat ‘n volk is.

‘n Volk is ‘n groep mense wat van ander groepe mense onderskeibaar is op grond van gemeenskaplike faktore soos ras-identiteit, bloedverwantskap, taal, kultuur en geskiedenis.

Daar is ‘n groot verskil tussen die begrippe volk en nasie. ‘n Nasie is ‘n groep mense wat binne die grondgebied van ‘n bepaalde staat woonagtig is en dus onderworpe is aan die gesag van die betrokke regering. Daar is dus nie noodwendig gemeenskaplikheid van ras, taal, kultuur en geskiedenis nie. Daar is dus ‘n Suid-Afrikaanse nasie, maar nie ‘n Suid-Afrikaanse volk nie.

Daarteenoor is die Duitse volk nie in ‘n enkele staat saamgebind nie, hulle woon in meer as een staat, naamlik Duitsland, Oostenryk en Switserland. Verder woon daar ook groot Duitse gemeenskappe in byna alle aangrensende Europese lande tot so vêr oos as Rusland en in ander wêrelddele soos Namibië en Argentinië.

‘n Mens verloor nie sy volksidentiteit wanneer hy na ‘n ander land migreer nie. Gewoonlik behou so ‘n persoon sy identiteit en soos wat sy kinders en kleinkinders algaande by die nuwe gemeenskap inskakel, verloor hulle geleidelik hul oorspronklike identiteit en word mettertyd deel van die nuwe gemeenskap.

‘n Volk is dus ‘n objektiewe gegewe. ‘n Portugees kan nie ‘n Duitser wees nie, net so min as wat ‘n Duitser ‘n Portugees kan wees. Wat wel kan gebeur, is dat ‘n Duitser na Portugal kan migreer en sy kinders en kleinkinders kan geleidelik in die Portugese volk opgeneem word, mits hulle assimileerbaar is. ‘n Nederlander of Duitser kan na Suid-Afrika migreer en sy nageslag kan geleidelik deur assimilasie in ons volk opgeneem word. ‘n Zoeloe se kinders en kleinkinders kan egter nie in ons volk opgeneem word nie, omdat hulle vanweë hul ras-identiteit nie assimileerbaar is nie.

Afrikaner of Boer?

Die gesaghebbende historikus, Herman Giliomee, wys daarop dat sedert die begin van die 18de eeu ons na onsself as Afrikaners of Boere verwys het. Die twee terme is daarna dwarsdeur ons geskiedenis as wisselvorme gebruik. Ten tye van die bestaan van die Suid-Afrikaanse Republiek (ZAR) en die Republiek van die Oranje-Vrystaat (OVS) is die twee terme steeds op dieselfde wyse as wisselterme gebruik. Geen persoon het nog ooit getwyfel wat Afrikaner of Boer beteken nie.

Daar is egter mense wat van mening is dat Afrikaner en Boer nie slegs verskillende terme is nie, maar in werklikheid verskillende volkere beteken. Daar word beweer dat die Boere die konserwatiewe, Christelike Blankes is wat in die noordelike provinsies gebore is en daar woon. Slegs hulle het glo ‘n vryheidstrewe en vertoon nie eienskappe van verraad nie. Daarteenoor word gestel dat die Afrikaners die liberale Blankes is wat in die suidelike provinsies gebore is en daar woon, nie belangstel in vryheid vir ons volk nie en tot verraad geneigd is. Daar word soms so vêr gegaan as om te sê die term Afrikaners is die naam van ‘n beesras.

In terme van die definisie van ‘n volk kan daar nie twee volkere van dieselfde ras, taal, kultuur en geskiedenis in dieselfde land bestaan nie. Die genealogie bewys in elk geval baie duidelik dat elke enkele Afrikaanssprekende Blanke ‘n noue bloedverwant is van elke ander Afrikaanssprekende Blanke in hierdie land, tot so ‘n mate dat ons volk niks anders is as ‘n uitgebreide familie nie. Ons voorsate was terdeë bewus hiervan; by die ontmoeting van ‘n vreemde het die handdruk gepaard gegaan met: “Dagsê neef/niggie, hoe voer jy die van?” Familiebande is dus vermoed en gewoonlik dan ook baie vinnig uitgelê.

Natuurlik was daar in die geskiedenis verskille tussen die noordelike en suidelike gemeenskappe van ons volk. So byvoorbeeld was die “Boere” van die ZAR sedert die laat 1870’s in ‘n ernstige konflik met Engeland betrokke wat uiteindelik in die militêre stryd van die Eerste Vryheidsoorlog (1880 – 1881) oorgegaan het. Gedurende dieselfde tyd het die “Afrikaners” in die Kaap ‘n taalstryd onder leiding van “Die Genootskap van Regte Afrikaners” aangepak.

Die feit dat daar enkele verskille in die geskiedenis van die Kaapse en Transvaalse gemeenskappe van ons volk voorkom, is egter geen bewys dat daar twee verskillende volkere bestaan nie. Gedurende die tydperk van die unifikasie van Duitsland, onder leiding van Otto von Bismarck in die 19de eeu, is daar ook ‘n verskil in die geskiedenis van die Suid-Duitsers en die Noord-Duitsers. In die tydperk voor die Frans-Pruisiese Oorlog van 1870 – 1871 het die Suid-Duitsers hulle aan die kant van die Franse teen die Noord-Duitsers geskaar en wou hulle nie saam met die Noord-Duitsers staan ten einde Duitsland te verenig nie, omdat hulle die Katolieke godsdiens met die Franse gedeel het. Dit het egter nie beteken dat die Suid-Duitsers skielik Franse geword het en nie meer Duitsers was nie. Daar is dan ook baie voorbeelde van hierdie tipe verskille in die geskiedenis van byna elke volk op aarde.

Ten opsigte van die argument dat die “Boere” en “Afrikaners” in die noordelike en suidelike provinsies respektiewelik gebore is en woon, kan die volgende teenargument gevoer word. Indien dit onbetwisbaar so is dat mense wat in die Kaap gebore is nie lede van ons volk is nie, dan is die grootste leier wat ons volk nog ooit opgelewer het, genl. J. B. M. Hertzog, sekerlik nie ‘n lid van ons volk nie – dieselfde geld vir dr. D. F. Malan, adv. J. G. Strijdom, mnr. Jaap Marais, dr. Andries Treurnicht en mnr. Eugene Terre’Blanche. Die ergste van alles is dat Andries Pretorius, Hendrik Potgieter en selfs Paul Kruger nie “Boere” was nie, maar “Afrikaners” aangesien hulle almal van die Kaap afkomstig was. In terme van die argument is ons almal in elk geval Afrikaners, want ons almal se voorouers is van die Kaap afkomstig!

Hierby aangesluit is daar ook die argument dat die mense wat deelgeneem het aan die Groot Trek die Boere is en die wat agtergebly het Afrikaners is. Op daardie argument die volgende, was Andries Pretorius dus ‘n Afrikaner of was hy ‘n Boer aangesien hy verkies het om aanvanklik aan die Kaap te bly en na die aanval op Retief besluit het om na Natal te gaan? Hy is tog vandag die held van Bloedrivier, so was daar ook baie Kaapse Rebelle wat tydens die ABO aan die Boererepublieke se kant geveg het en gesterf het en ook Kapenaars in die Rebellie van 1914. Om slegs een voorbeeld te noem, Manie Maritz, wat die bevelvoerder was in Upington en met meer as 2000 burgers deelgeneem het aan die Rebellie van 1914. Verder was daar ook trekkers wat getrek het uit die Kaapkolonie uit nie omdat hulle ‘n probleem met die Britse bewind gehad het nie, maar suiwer om agter weiding aan te trek of om handel te dryf. Verder wat word die nageslag genoem van ‘n man wat in die Transvaal woonagtig is en met ‘n dame uit die Kaap trou, sal hulle nageslag dan Afrikaners of Boere wees?

Ten opsigte van die argument dat die Boere ‘n vryheidstrewe het en nog nooit die volkstryd verraai het nie en dat die Afrikaners nie in vryheid vir ons volk belangstel nie en verder tot verraad geneigd is, die volgende: Aan die einde van die Tweede Vryheidsoorlog (1899 – 1902) was daar ongeveer 22 000 Bittereinders en 24 000 “hensoppers,” “joiners” “National Scouts” en verraaiers in die ZAR en OVS – dit wil sê amper net soveel mense in die noordelike provinsies wat ons volk se vryheid ten alle koste wou handhaaf as mense wat bereid was om die Engelse oorlogspoging teen ons volk te steun. Verder, genl. Christiaan de Wet was sekerlik die grootste vryheidsvegter wat ons volk nog ooit opgelewer het, terwyl sy eie broer, genl. Piet de Wet, ‘n “National Scout” was wat teen sy eie volksgenote geveg het. Beteken dit dat Christiaan de Wet ‘n “Boer” en Piet de Wet ‘n “Afrikaner” was. Kan dit werklik so wees dat ‘n pa en ma se een seun van een volk kan wees en hul ander seun van ‘n ander volk? Dit is tog onmoontlik. Die waarheid is egter baie eenvoudig: die een was ‘n held en die ander een ‘n swakkeling en verraaier.

Onthou verder dat die Gesuiwerde Nasionale Party, wat vanaf 1934 tot 1940 die vaandel van volksnasionalisme gedra het, hoofsaaklik ‘n Kaaplandse politieke party was, terwyl die Transvalers en Vrystaters hoofsaaklik die pro-Engelse Verenigde Party onder genl. Jannie Smuts gesteun het. Daarteenoor was diegene wat ons volk se politieke mag gaandeweg ondergrawe en uiteindelik die land aan die ANC oorgegee het van die noordelike provinsies afkomstig. Beide John Vorster en F. W. de Klerk is in die Transvaal gebore en het daar gewoon, terwyl P. W. Botha in die Vrystaat gebore is.

Dit is ook belangrik om daarop te let dat verskeie ander volkere ook meer as een naam het. So byvoorbeeld verwys die Duitsers na hulleself as “Deutsch” terwyl die Franse na hulle as “Allemande” verwys.

Is Afrikaners ‘n beesras? Ja, natuurlik. Die woord “Fries” verwys eweneens na ‘n volk sowel as ‘n sekere perd en beesras. Dieselfde geld vir “Brahmaan” of “Brahmane” wat na ‘n Indiese godheid, ‘n Indiese kas of ‘n beesras verwys. Dit is dus glad nie ongewoon dat sekere diere, soos beeste of perde, na ‘n volk of groep mense vernoem word nie.

Liberalisme

Dit is verder baie insiggewend om te sien hoe die liberalisme altyd as die vark in die verhaal voorgehou word, maar is dit werklik die geval?

Tydens die Middeleeue was die “universalisme” die heersende ideologie in Europa. Hiervolgens is die individuele en partikuliere misken ten gunste van dit wat universeel is. Daarom was daar net een kerk vir alle mense in Wes-Europa, naamlik die Rooms-Katolieke Kerk en net een keiserryk, naamlik die Heilige Romeinse Ryk.

Aan die einde van die Middeleeue het die “nominalisme” egter geleidelik na vore getree as heersende ideologie en dit het die universalisme met verloop van tyd vervang. Die universele is gevolglik misken ten gunste van dit wat individueel en partikulier is. Die nuwe begrip van die werklikheid het op kulturele gebied daartoe gelei dat die universele beeld wat van die mens bestaan het, verwerp is en met ‘n individualistiese beeld van die mens vervang is, vandaar die humanisme van die Renaissance (ongeveer 14de eeu). Op politieke terrein het dit daartoe gelei dat die dominansie van die Heilige Romeinse Ryk verwerp is ten gunste van die geleidelike erkenning van verskillende nasionale identiteite en die totstandkoming van verskillende Europese nasiestate (ongeveer 15de eeu). Op religieuse gebied is die dominansie van die Rooms-Katolieke Kerk verwerp wat tot die Hervorming, godsdiensvryheid en die totstandkoming van verskillende Lutherse en Calvinistiese kerke (ongeveer 16de eeu) gelei het. Boonop het dit daartoe gelei dat die Europese mens nuwe gebiede ontdek en gekoloniseer het (ongeveer 15de eeu).

Indien die beweging weg van die universele na die partikuliere ‘n vorm van liberalisme is, beteken dit dat gebeure soos die erkenning van die individualisme van die mens, verskillende nasionale identiteite, die opkoms van nasiestate, die Hervorming, godsdiensvryheid, die totstandkoming van die verskillende Lutherse en Calvinistiese kerke en selfs die kolonisering van nuwe gebiede buite Europa, direk aan die liberalisme gekoppel kan word en selfs as die produkte daarvan erken moet word. Anders gestel: Sonder hierdie sogenaamde liberalisme sou daar geen individualistiese begrip van die mens, nasiestate, verskillende nasionale identiteite, godsdiensvryheid of verskillende Lutherse en Calvinistiese kerke gewees het nie. Dit beteken verder dat ons as Afrikanervolk die erfgename van die liberalisme is aangesien al die vernaamste elemente van ons Afrikaneridentiteit direk daarna terug herlei kan word!!!

Teen die einde van die 18de eeu het die liberalisme as politieke magsfaktor sterk na vore getree. Die liberalisme is egter niks anders as die filosofie van vryheid nie en meer spesifiek vryheid van assosiasie, spraak, ensovoorts. Die noue verwantskap tussen die liberalisme en die nasionalisme is gedurende die loop van die 19de eeu verder beklemtoon toe daar in byna alle Europese state liberale opstande en revolusies was om afsonderlike nasiestate finaal te vestig en te verenig.

Die werklike gevaar waarvoor ons volk te staan gekom het, is dus nie die liberalisme as sodanig nie, maar die gelykheidsdogma. Die ironie is natuurlik dat die gelykheidsdogma in ons eie tyd nie in die liberalisme skuil nie, maar in die waardes en norme wat ons as nasionalistiese Boere of Afrikaners belangrik ag, naamlik:
– op politieke gebied in die demokrasie (die argument dat alle mense wat binne ‘n bepaalde staat bly moet kan stem ongeag of dit ten koste van die bestaan van afsonderlike nasionale identiteite is of nie),
– op ekonomiese gebied in die kapitalisme (die argument dat alle mense ongehinderd aan die ekonomiese sisteem moet kan deelneem ongeag of dit tot voordeel of nadeel van die volk en staat is),
– op godsdienstige gebied in die Christelike kerke (die argument dat alle mense gelyk is omdat almal deur God geskape is en omdat almal deur dieselfde optrede vir hulleself ‘n plek in dieselfde hemel kan verwerf).

Slot

Ten slotte word dit weereens herhaal: Daar is nie twee verskillende Blanke Afrikaanssprekende volkere in Suid-Afrika nie. Selfs al sou dit waar wees, moet ons, ons energie veel eerder daarop fokus om die verskille tussen hulle te oorkom en die ooreenkomste tussen hulle te beklemtoon ten einde eensgesindheid te bevorder. Ons as Boere of Afrikaners staan almal voor dieselfde vernietigende gevaar, naamlik dat ons voortbestaan in Afrika bedreig word. Om dié bedreiging te oorkom moet ons almal saamstaan en eenheid bevorder, selfs met die ander Blanke gemeenskappe in Suid-Afrika soos die Engelse, Duitsers, Nederlanders, Portugese en Grieke.

Die Afrikanervolk is die Boerevolk, die Boerevolk is die Afrikanervolk.

Andre Tibert du Toit