Vuurwapenhandelaars word ondersoek


Nathi Mthethwa, die Minister van Polisie het ’n ondersoek gelas na vuurwapen handelaars.
Hy het in sy rede verwys na “die wanpraktyke van beginsellose vuurwapenhandelaars” wat stukkende vuurwapens aan swartmense verkwansel.

Hy sê hy is gekwel oor handelaars wat die Wet op Vuurwapenbeheer omseil en dit hou ook verband met deposito’s wat nie volledig terug betaal word nie.
Deposito word geneem op wapens wat aangekoop word, maar oorhandiging is onderworpe aan ’n lisensie.
Indien die lisensie nie uitgereik word nie, moet die deposito teruggegee word aan die potensiële koper, en volgens die Minister gebeur dit nie altyd nie.
Hy het gesê verskeie klagtes is ontvang, soos:
• Sommige handelaars weerhou die volle of ’n deel van die deposito wanneer die vuurwapenlisensie afgekeur word of wanneer dit aan appèl onderworpe is;
• Stukkende vuurwapens word hoofsaaklik aan swart aansoekers aangebied.

’n Wapendeskundige het aan Die vryburger gesê dit is onwaarskynlik dat handelaars foutiewe wapens sal verkoop sonder om die fout aan die koper uit te wys. Dit gebeur dikwels dat mense ’n foutiewe wapen aankoop wat presies dieselfde is as een waaroor hy reeds beskik wat dalk ’n ander fout het.
Uit die twee wapens word een gemaak, het hy gesê.