Vir die huisvrou


Goeie dag dames (en mans wat ook die liefde vir kos-maak deel).

Hierdie week het ons ‘n maklike broodjie wat jy gerus kan bak as jy braai of in die bos kampeer. Daar is niks so lekker soos ‘n warm sny potbrood met plaasbotter op nie!

Maklike kampvuur melkbrood:
Bestanddele:
* 6 koppies koekmeel
* 3 teelepels sout
* 3 teelepels suiker
* 1 pakkie kitsgis
* 2 ½ koppies melk

Metode:
1. Meng al die droë bestandele in ‘n groot bak.
2. Verhit die melk tot baie warm (dit moenie kook nie) en gooi dit by die meelmengsel.
3. Roer die mengsel goed deur totdat dit ‘n deeg vorm. As die deeg styf is, kan jy nog ‘n bietjie melk of water byvoeg. Laat staan dit dan om te rys.
4. Knie die deeg af en laat dit rys tot dubbel die volume. Knie dit dan ‘n tweede keer af en laat dit weer rys tot dubbel die volume.
5. Bak dit in ‘n swartpot of broodpot oor matige kole vir 30 – 45 min, of totdat die brood se kors mooi bruin en gaar is. Onthou om ‘n paar kole bo-op die pot te sit sodat die brood van bo en onder af bak.