Vervang haainette met nuwe tegnologie


Sharksafe is ’n nuwe metode om haaie te beheer en haainette te vervang.
Dit bestaan uit plastiekpype wat soos bamboes lyk. Dit word met kettings aan betonblokke aan die seebodem geanker.
’n Magnetiese veld is in die struktuur ingebou en die boonste deel van die plastiekpyp steek bo die water uit.

“Ons weet dat sekere haaispesies, veral grootwithaaie is baie sensitief vir visuele hindernisse soos bamboes. Ander haaispesies is weer oor die algemeen sensitief vir magnetiese velde,” sê prof. Conrad Matthee van Stellenbosch.

Die patent, bestaande uit drie rye plastiekpype wat mekaar oorvleuel, word nou in die see van 10 m tot 12 m diep by Gansbaai getoets.

Die toetsfase het branders en golwe van tot 7 meter hoog weerstaan.

Die plan blyk ’n sukses te wees, maar het geld en toestemming van die Kaapse stadsraad nodig om alles in werking te stel.

Dit sal byvoorbeeld R10 tot R12 miljoen kos om die stelsel by Muizenberg-strand op te rig.