Verslag oor die samesprekings tussen die Boere-Afrikaner Volksraad en die SA Menseregtekommissie op 13 Mei 2013


Die Volksraad het gister ‘n gesprek gevoer met die SA Menseregtekommissie na aanleiding van die klag wat die Volksraad op 3 Desember by die Kommissie teen die SA Regering gelê het weens laasgenoemde se versuim om uitvoering te gee aan sy konstitusionele en volkeregtelike verpligtinge met betrekking tot selfbeskikking van volkere, en spesifiek die Boere-Afrikanervolk.

Die gesprek was teleurstellend. Die Hoof Bedryfsbeampte (Chief Operations Officer) met wie die gesprek aangevra is, het nie opgedaag nie en ook geen verskoning is vir haar gemaak nie (nie dat haar teenwoordigheid enige verskil sou gemaak het nie). Van haar mindere beamptes en die deeltydse kommissaris wat die klag beoordeel, dr. Danny Titus*, het die Kommissie verteenwoordig. Die Voorsitster was me. Chantal Kisoon, die Provinsiale Bestuurder vir Gauteng.
Ter aanvang het die Voorsitter van die Volksraad die vergadering meegedeel dat dit óns mense se gebruik is om vergaderings met gebed te open, en het hy ons Ondervoorsitter, Abel Malan gevra om die gebed te doen. Die Kommissielede het dit oënskynlik vreemd gevind, dog die nodige respek getoon, terwyl die Kommissaris sigbaar geïrriteer voorgekom het.

Daarna het die Voorsitter van die Volksraad die redes verstrek vir die versoek tot gesprek en daartoe oorgegaan om ‘n kort beskrywing te gee oor die ontstaan en doel van die Volksraad, pogings om met die Regering te skakel, die redes vir die klag en die uitkoms wat die Volksraad verlang.

Vervolgens het hy aan die hand van die kommunikasie wat met die Kommissie gevoer is sedert die klag aanhangig gemaak is, aangetoon hoe navrae met onwaarhede oor die stand van die ondersoek beantwoord is. Hy wou voorts weet hoekom dit die Kommissie 5 maande neem om te bepaal of hulle jurisdiksie het om die klag te hanteer, terwyl die betrokke verdrae deur die VN as menseregteverdrae geklassifiseer is en die S.A. Regering by ondertekening daarvan die Internasionale Menseregtekomitee aanvaar het as beslegter van klagtes oor die uitvoering daarvan.

Kisoon het ontken dat daar voete gesleep word met die klag, en haar Kommissie se proses om klagtes te hanteer, verduidelik. Die ongewone aard van die klag en die implikasies wat dit vir die land kan inhou, dra glo by tot die tydsduur wat vereis word om ‘n besluit oor hul jurisdiksie te neem. Die wanvoorstellings oor die vordering is eenvoudig afgemaak en weggepraat.

Daarna het die Kommissaris wat die ondersoek uitvoer, Danny Titus, die woord geneem. Ofskoon hy toegegee het dat volke se reg op selfbeskikking in die Volkereg erken word, en dat die regime gebind is tot onderhouding van die internasionale ooreenkomste wat hy onderteken het, het Titus se vooroordeel en vyandigheid uit die staanspoor geblyk toe hy, soos ons verwag het, die hele aangeleentheid oor die boeg van rassisme en ‘n terugkeer na “apartheid” probeer gooi het — ‘n tema wat hy herhaaldelik gedurende die gesprek na vore gehaal het. Die Voorsitter van die Volksraad het daarop aan hom ‘n omvattende navorsingstuk oor die erkenning van volke se reg op selfbeskikking in die Volkereg, oorhandig, wat deur ‘n medewerkende prokureur nagevors en opgestel is.

Voorts het hy die Volksraad se aanspraak op verteenwoordiging betwis weens die feit dat daar nie méér geregistreerde kiesers op die VVK se kieserslys geregistreer is nie. Hy wou weet hoeveel Swartes en Kleurlinge aan die verkiesing deelgeneem het, waarop die Volksraad hom daarop gewys het dat dit ‘n volksverkiesing was vir lede van óns volk wat die verklaring op die registrasievorm kon en wou onderskryf. Hy het trouens beweer dat die aantal vryheidsgesinde Afrikaners daal en ‘n stelling wat in The Economist gemaak word, as bron vir die bewering aangehaal. Die Voorsitter van die Volksraad het voorgestel dat as ‘n billike bepaling van die aantal volksgenote wat vryheid begeer, verlang word, die Kommissie by die Regering moet aanbeveel dat ‘n landwye meningsopname in die vorm van ‘n referendum, wat uit die Staatskas (d.w.s met ons belasting) befonds word, onder Afrikaners gehou moet word.

Die ander vraag (wat ook te wagte was), was wáár die Volksraad ‘n eie gebied vir selfbeskikking in die oog het. Die Kommissie is daarop gewys dat die Volksraad in sy skrywes en vryheidseis vermy het om grense te trek, aangesien dit nou om die erkenning van die beginsel gaan. Daarna moet oorgegaan word tot die bepaling van die praktiese aspekte. Sou die selfbeskikkingsbeginsel aanvaar word, kan aan bestaande volksnedersettings soos Orania en Kleinfontein reeds ‘n hoë mate van selfbeskikking toegeken word, en voorsiening gemaak word vir die geografiese uitbreiding daarvan, terwyl volwaardige eie departemente vir terreine soos byvoorbeeld onderwys daargestel kan word. Sodoende kan selfbeskikking ‘n evolusionêre proses wees wat kan uitbrei totdat die eindideaal, te wete geografiese onafhanklikheid, bereik word.

Titus het beweer dat die beginsel van selfbeskikking reeds in artikel 235 van die Grondwet erken word. Die Volksraad se antwoord was dat dit sonder praktiese uitvoering ‘n dooie letter is. Ons dring aan op praktiese uitvoering daarvan.

Die vraag is gevra waarom ‘n regime wat die Afrikaner sigbaar haat, ons volk steeds onder sy gesag wil hou en nie bereid is om uitvoering te gee aan ons aanspraak op selfbeskikking nie. Ons afleiding is dat hulle ons slegs beskou as ‘n belastingbron wat getap kan word.

Vele ander vrae is gevra en argumente gevoer, waaruit die Kommissaris se kwade gesindheid, onbegrip en selfs moedswilligheid duidelik geblyk het. Daaraan geoordeel, is die Kommissie se bevinding en finale antwoord voorspelbaar. Hy erken enersyds dat die bevolking van Suid-Afrika uit verskillende volke (peoples) bestaan, nogtans gaan dit vir hulle om slegs één ding, naamlik die gelykskakeling en eendersheid van alle mense in Suid-Afrika kragtens die Grondwet. Voor die oppergesag van die mensgemaakte Grondwet — waaraan ons geen deel gehad het nie — moet die harde feite van ons eie volkskap, geskiedenis en identiteit wyk. Volgens Titus sal die Kommissie dieselfde standpunte voor die Internasionale Menseregtekomitee stel, sou die Volksraad hom tot dié liggaam wend.

Die gesprek en die benadering van die Kommissaris het opnuut die onbeskryflike yslikheid van De Klerk en sy meelopers se verraad teen ons volk onderstreep, waardeur ons in ‘n posisie geplaas is dat mense wat self geen volksidentiteit, volksgeskiedenis en volkstrewe het en daarom niks daarvan verstaan nie, oor die Boere-Afrikanervolk en ons nasionale aspirasies uitspraak kan lewer. Dit oortref die gekombineerde verraad van al die joiners in die Tweede Vryheidsoorlog omdat die gevolge daarvan vir ons volksbestaan soveel groter is.

Die Volksraad sal voortgaan om die opdrag wat hy met sy verkiesing gekry het, onverbiddelik uit te voer en roep volksgenote op om laer te trek ter beskerming van ons volkskap en om ons strydvaardig te maak teen die aanslae wat daarteen gerig word.

Andries Breytenbach
Voorsitter

14 Mei 2013