Umalusi: Nuwe akkrediteringsproses knel Privaatopvoeding


‘n Onderwys- of Opvoedkundige instelling wat sy sout werd is, se deure staan altyd oop vir enige persoon of Instansie wat sy werk wil evalueer of meet aan bepaalde hoë standaarde.

In ons vorige staatsbestel was dit ‘n algemeen-aanvaarde beginsel by skole en selfs tersiêre Inrigtings, dat hulle onderrig- en leerprogramme deurlopend onder die een of ander skerp “ vergrootglas” geplaas was om te verseker dat slegs die beste moontlike onderrig en opleiding daar plaasvind.

Na 1994, het daar ‘n drastiese verandering plaasgevind. Die staatskole is geleidelik oopgestel aan meer en meer leerlinge van die sg. townships. Dit terwyl daar in die genoemde woongebiede baie skole bestaan maar waar die kwaliteit van onderrig nie voldoen aan die standaarde wat in die blankeskole gehandhaaf is nie. Dit is nie vreemd dat ouers ( ongeag hul ras ) slegs die beste vir hulle kinders wil verkry nie. Die gevolg was dat die skole baie meer leerlinge moes akkommodeer as waarvoor hulle gebou is en waarvoor daar jaarliks voorsiening gemaak is.

Al hoe meer ouers het besluit om weg te breek van die staatskole af en die CVO-skole het op baie dorpe en stede ontstaan. Hierdie skole is geaffilieer by die BCVO ( Die Beweging van Christelike Volkseie Skole ).
Hier is kinders opnuut opgevoed en onderrig in die gevestigde Christelike onderrigwaardes en ook met ‘n gewaarborgde kwaliteit onderrig.
Die prestasies van skole geaffilieer by die BCVO deur die jare is bekend en die Boere-Afrikaner het met trots sy kinders by sulke skole ingeskryf.
Blykbaar was hulle prestasies vir Umalusi ‘n bron van verleentheid want hulle erkenning is ook verlede jaar herroep, dit terwyl die BCVO ‘n deeglike stelsel in plek het om te verseker dat leergebeure aan die hoogste moontlike standaarde voldoen.

Alle privaat skole en Opvoedkundige instansies is genoodsaak om ter wille van gehaltebeheer van hulle leeruitkoms vir akkreditasie by Umalusi aan te klop. Interessant is die feit dat die staatskole en staatsinstellings, nie aan die monitering vir akkreditasie by Umalusi verplig word nie. Die prestasies van skole uit die ou bedeling, is blykbaar genoegsaam om ‘n voortsetting daarvan te verseker.

‘n Verdere klip in die skoen van privaat instellings is dat die nuwe akkreditasieproses van Umalusi, met geweldige hoë kostes gepaard gaan. ‘n Voorlopige beraming vir ‘n Nasionale beroepsgerigte Sertifikaat, kan blykbaar tot R33,000-00 kos vir die akkreditasie van een kursus (Program)
Die koste vir ‘n Instansie kan dus tot R100,000-00 per jaar beloop en hierdie koste moet elke sewe jaar herhaal word.

Hierdie verhoogde koste kan ook nie net deur die Instelling deurgegee word aan die studente nie. Dit kan die kostes om ‘n “geleerdheid” te bekom, buite die meeste voornemende studente se vermoë plaas. Die enigste uitweg bly dan om by ‘n staatsinstelling te bly . Hier beweeg ons nou op ‘n terrein waar nie almal graag wil wees nie. Staatsinstellings word al meer met skeptisisme bejeën ten opsigte van die gehalte onderrig wat hulle bied. ( Hulle hoef nie aan dieselfde akkreditasieproses te voldoen nie!)

Subsidies en /of beurse word aan studente by Staatsinstellings beskikbaar gestel. Daar is blykbaar miljarde Rande beskikbaar vir nasionale studente-
finansierings hulpskemas.

Instellings of diensverskaffers wat deel is van die Association of Private Providers of Education, Training and Development ( Appetd) het by monde van Cynthia Reynders, hulle uitvoerende hoof, gesê dat daar geweldige frustrasie onder die Verskaffers van Privaatonderrig is . Hulle voel dat Umalusi en die Regering se department van Hoër Onderwys, die private onderrig in die land wil “doodwurg”.

Private kolleges kry dus geen beurse of subsidies nie en boonop verminder die bydrae wat hulle uit die Nasionale vaardigheidsontwikkelingsfonds verkry het van 50% tot 20%. Daarenteen word al meer openbare instellings weens wanbestuur en ander probleme deur die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimandi, onder administrasie geplaas.

Reynders meen die Regering ondermyn werkskepping met die regulasies en verhoed ook die vaardigheidsopleiding deur privaat instellings van meer as vier miljoen werklose jeugdiges in die land.

Akkreditasie en monitering van instellings is nodig om te verseker dat ‘n hoë standaard van onderrig gehandhaaf word maar die geweldige bedrae wat die Privaatinstellings moet betaal laat vele vrae en ‘n wrang smaak in die mond.