Uitvoering deur Opera 2000.


Opera 2000 lewer as ‘n kleiner groep weer uitvoerings. Die konserte is deel van die Groot Trek 175-Feesvieringe om op ‘n luisterryke wyse ons daaraan te herinner dat die Voortrekkers Ligdraers van ‘n hoogs beskaafde Westerse Kultuur was.

As pioniers was daar nie ‘n geldmotief agter die Trek nie, maar die behoefte om hulle hoogste morele en kulturele waardes in vryheid uit te leef.

Die eerste van ‘n groep van vier konserte in vind op 14 Junie in die saal van die Hervormde Kerk, Meyerspark plaas. Die verrigtinge begin 19.30 vir 20.00.

Van die oorspronklike soliste van Opera 2000 wat reeds in 1994 uitvoerings in die Staatsteater en later in die Aula aangebied het, het nou weer bymekaar gekom en gaan ‘n heerlike aand aanbied waarin uittreksels uit Opera’s en Operettes gehoor sal word. Bekende en wonderskone arias, duette, trio’s en kwartette w.o: “Saggies Ontwaak my Hart” uit Simson en Delila (Saint Saens), “Die Sterre het Geskitter” uit Tosca (Puccini), “’n Heimlike Traan,” uit Die Eliksir van die Liefde (Donizetti), Die alombeminde sopraanaria uit La Wally (Catalani) “Mag die Hemel julle Vergewe” uit Martha (Flotow).

Uit die Operettes is daar die heerlike Skattrio uit Die Zigeunerbaron J Strauss en van dieselfde komponis, sy immergroen ensemble “Dui-du.”

Die sangers wat deelneem is Bets Botha, Helena Ceronio, Neels Boonzaaier, Hennie du Plessis, Danie Pretorius, Elma Bester en Johan Vorster. Begeleiding word waargeneem deur Helena Oosthuizen. Uittreksels uit die werke van Verdi, Beethoven, Donizetti, Bellini, Rossini en die Walskoning Johann Strauss is op die program.

Die prys van die kaartjies is R125 pp en sluit sjerrie, sop, toebroodjies, sout en soet versnaperinge in. Die uitvoering word om 20.00 begin, en daarom is dit nodig om vroeër op te daag vir die heerlike saamwees rondom die verversings.

Kaartjies is beskikbaar by Bets Botha, tel 0793531997. Bespreek asb betyds aangesien die verversings voorberei moet word.

Die Kerksaal is in Havelockstraat, Meyerspark.