Tsunami Dlamini


Maak enige koerant oop, luister enige nuusberig of laat jou hare sny by enige plaaslike plattelandse vrouehaarkapster en jy hoor die nuutste nuus. Die ding waaroor almal praat. Nie die stuk oor die dorp se mans wat nie meer die ander haarkapster se dienste mag gebruik omdat sy haar bates teen hul ore druk nie – ons praat hier van belangrike sake. Dit gaan hier oor dinge wat almal van weet en oor praat. Groot wêreldnuus. Dinge soos die algemene bekendheid van die werêldbeminde Indonesiese teen-krag-en-water-diefstal-en-wanbetaling-deur-plakkers-in-onwettige-plakkerskampe veldtog.

Vanweë die reusagtige sukses van hierdie veldtog is die enigste ding wat mense van Indonesië weet nou nie net meer dat daar van tyd tot tyd van die beste surfgolwe voorkom nie. So bekend is hierdie program dat dit vir Cathy Dlamini, burgemeester van Nelspruit, die enigste logiese plek is om te gaan leer hoe om plakkerskamp kragdiewe te hanteer.

Hoewel ‘n span van 138 gehuurde privaatspeurders, ses onwettige immigrante en haar ma tans probeer vasstel of sy werklik die burgemeester is of die Burgermeester, die titel vir die rekordhouer van Nelspruit Spur se burgereetkompetisie, is haar passie om hierdie probleem op te los so sterk dat daar berigte is dat die Dalai Lama ‘n tatoeermerk van haar gebalde vuis op sy bors gekry het.

Hoe kies hierdie mense hul diplomatieke reise. Kwyl hulle eers die Flexiclub fotogids sopnat en as hul klaar bespreek het, soek hulle ‘n politieke rede om die staat te laat betaal daarvoor? Miskien moet die burgemeester van Dirkiesrus in Alaska gaan hulp vra oor die bestryding van veldbrande en die burgemeester van Sutherland kan in Hawai gaan aanklop vir hulp met die hantering van koue weerstoestande!

Ons politici se hande staan vir niks verkeerd nie, hul loop die ekstra myl, hulle ry met al hul wiele op die skouers en vele werk maak hulle hande lig! Hulle sal doen wat hulle moet doen al beteken dit ook dat tientalle mense in hul eie hande moet lag ten aanskoue van Cathy Dlamini in haar 2 nommers te klein eenstuk leeuvel tiertart op Indonesië se strande. Al kos dit hoeveel vals berigte van gestrande walvisse, sy sal Indonesië besoek…nie net omdat haar Flexiclub punte ophoop en in Desember verval nie, maar ook omdat sy nie die Dalai Lama wil teleurstel nie.

Mense spuug nou op die dame se skaduwee omdat sy geen begroting of reisplan vir die toertjie ingedien het nie, maar hoe moet sy weet wat die ingangsgeld by Indonesiese pretparke is?

Vergeet die reisplan, die groot verantwoordelikheid op die RSA regering is om ‘n Tsunami waarskuwing aan Indonesië uit te reik ingeval me Dlamini dalk ‘n bommie wil gaan maak in die Indiese Oseaan!

Tot volgende slag
Die Sweep