Taalwet: Pres. Zuma onderteken die Wet.


Na lange jare en verskeie hofsake, is ‘n Taalwet deur Pres. Zuma ingestel op 2 Mei 2013, om te voldoen aan die voorskrif van die Grondwet oor tale om “nie teen Afrikaans of die ander Inheemse Tale te diskrimineer nie.”

Die hele aanloop tot die Taalwet, “die Wet op die gebruik van Amptelike Tale” laat egter ‘n groot vraagteken hang oor die Betekenis van die Wet vir die Afrikaner asook die implementering daarvan.

Belangegroepe is slegs tyd gegee tot 24 Mei 2013 om dit te bestudeer en kommentaar daaroor te lewer. ( Ironies – gegewe die lang tyd wat ons daarvoor gewag het )

Verskeie regulasies is saam met die Wet gepubliseer en handel onder meer oor die volgende:
1 Watter drie tale in elke Provinsie as Amptelike tale gebruik sal word;
2 Nasionale departemente en ander openbare instellings moet elk ‘n Taalbeleid daarstel binne drie maande nadat die regulasies van krag word;
3 Die onderskeie instellings moet elk ‘n Taaleenheid stig binne dieselfde
Tydperk;
4. So ‘n Taalbeleid moet sy doel uiteensit , verduidelik watter dienste
hulle gaan lewer , waar ( geografies ) hierdie dienste gelewer sal word;
5. Instellings moet met betrekking tot die Amptelike Tale wat hulle kies
ook vasstel wat die taalgebruik van die Publiek is, daar waar hulle
diens gaan lewer, : Met in agneming van die taalstatistieke van die
Sensus;
6.Kosteberaming moet gedoen word vir die daarstelling van die nodige
Regeringsdienste;
7. Instellings moet aandui hoe die Amptelike Tale gebruik gaan word om
doeltreffende kommunikasie te verseker. Ook aandag skenk aan die
opstel van kennisgewings, vorms, inligtingstekens, verslae en
dokumentêre verslae;
8. Instellings moet aandui hoe met die Publiek gekommunikeer gaan
word wie se voorkeurtaal nie een van die gekose Amptelike Tale is
nie;
9. Ook kommunikasie met die Publiek wat Braille of Gebaretaal verkies.

Voordat ‘n Instelling se Taalbeleid aanvaar kan word, moet dit vir kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer word.

Alle taalbeleidstellings moet voor 1 November 2014 of met ministeriële toestemming voor 1 April 2015 afgehandel wees.

Die uiteenlopende kritiek op die Wet is nie vreemd nie. Vroeër het ‘n Internasionale taalregte spesialis, dr. Fernand de Varennes ‘n verslag vir die Afrikaanse Taalraad opgestel. Hy het ondermeer na modelle en benaderings gekyk vir die gebruik van amptelike tale in Suid-Afrika.Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat nie die wet of die regulasies reg laat geskied aan die Grondwet se sensitiwiteit vir Taalregte nie. ‘n Verdere gevolgtrekking waartoe hy gekom het is dat die Regering hul kans verspeel het om behoorlike uitvoering aan die bepalings van die Grondwet te kon gee.

Die prokureur en Taalaktivis Cerneels Lourens wys ook talle leemtes uit in die Wet en Regulasies. Volgens hom is die Wet sonder “afdwingmaatreëls.” Die Nasionale Regering moet volgens die Grondwet die gebruik van Amptelike tale met Wetgewende- en ander maatreëls reël en monitor. Die wet moet voorskrifte bevat oor hoe, waar, wat en wanneer die Nasionale Regering die gebruik van amptelike tale moet reël. Verder ook watter amptelike tale in bepaalde gebiede gebruik moet word. Die gebrek aan afdwingmaatreëls beteken ‘n wetgewende verklaring sonder sanksie.

Al is die regulasies daar om aan te dui hoe die drie amptelike tale in bepaalde gebiede en omstandighede gekies moet word, en ook die beleid
se inhoud bepaal, bly dit vae riglyne en kan dit nie foute in die Taalwet uitskakel nie. Lourens veg al sedert 2009 om die Nasionale Regering so ver te kry om uitvoering te gee aan die voorskrifte van die Grondwet oor Tale.
Hierdie stryd woed al sedert die ANC se bewindsoorname en die sg. wonderlike nuwe Grondwet, onder andere as deel van die diskriminasie teen Afrikaans as ‘n amptelike taal. ( So ook die ander inheemse tale ) Hy het aanbeveel dat daar ‘n ombudsman moet wees by wie klagtes ten opsigte van die ontoereikendheid van diens aan die publiek, in hulle eie taal, aangemeld kan word.

Met al die onderskeie streke en provinsies met elkeen se eie taal en/of dialek in gedagte, sal so ‘n ombudsman ‘n uitgebreide werksdepartement op sy eie moet tot stand bring en instand hou. Tans het ‘n ontevrede Burger geen ander uitweg as om klagtes wat die D.G. van die hand wys, aan ‘n hof voor te lê vir bemiddeling.

Prof. Koos Malan, ‘n dosent in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, voel dat die Wet twee ernstige leemtes toon: Die staatsdiens se vermoë om die nodige personeel te voorsien om die publiek te bedien asook die gebrek aan ‘n moniteringsmeganisme om toe te sien dat die publiek in hulle eie taal bedien word.

Dit is ook nie ‘n geheim nie dat al skep die ANC ‘n rooskleurige prentjie
oor die plek van Taal en die regte van ‘n Taal volgens die Grondwet , die algemene tendens is dat die ANC-regering al ‘n geruime tyd besig is om Engels op verskeie fronte op die nie-engelssprekende publiek af te dwing.

As Afrikaanssprekende landsburgers berus die verantwoordelikheid by ons om altyd daarop aan te dring om in Afrikaans bedien te word waar ons ons ook al bevind. Die Afrikaner, bekend vir sy goeie maniere, sal egter gou oorslaan na Engels maar sodoende dra ons niks by tot die handhawing, behoud en beskerming van ons geliefde Moedertaal nie.